Central SA
Watertoevoer in Delareyville ná dae weer herstel─── CHARNÉ VAN DER MERWE 10:02 Sat, 17 May 2025

’n Dorp in Noordwes het weer water nadat die munisipaliteit nie die gemeenskap oor die situasie ingelig of redes vir die situasie verskaf het nie.
Inwoners van Delareyville was vir etlike dae sonder water en die Tswaing-munisipaliteit het versuim om sy grondwetlike verpligting na te kom deur nie water te verskaf of die redes vir die ontwrigting te kommunikeer nie, sê JP Nel, AfriForum se distrikkoördineerder vir Stellaland.
“AfriForum het antwoorde van die munisipaliteit geëis oor waarom die watertoevoer afgesny is en versoek dat dit dringend herstel word.”
Nel sê die organisasie beklemtoon betroubare toegang tot skoon water is ’n basiese mensereg soos vervat in art. 27 van die Grondwet. “Die regte van Delareyville se inwoners word dus geskend wat ernstige kommer wek oor die munisipaliteit se bestuur en sy vermoë om in krisistye te reageer.”
‘Inwoners van Delareyville verdien beter’
Hy sê AfriForum het ’n formele brief aan die Tswaing-munisipaliteit gestuur waarin die organisasie ook ’n dringende vergadering met die betrokke munisipale amptenare versoek het om die voortdurende uitdagings te bespreek – veral met betrekking tot watervoorsiening.
“Ons kan nie toelaat dat basiese dienslewering in ons gemeenskappe in duie stort nie. Die inwoners van Delareyville verdien beter en ons sal voortgaan om die plaaslike regering aanspreeklik te hou vir sy grondwetlike pligte,” sê Nel.
“AfriForum is bekommerd oor die gebrek aan deursigtigheid en aanspreeklikheid wat die munisipaliteit tot dusver getoon het. Ons doen ’n beroep op die munisipaliteit om vinnig op te tree andersins sal ons nie huiwer om verdere stappe te doen nie.”
OFM Nuus dg