On Now
Weekends 16:00 - 19:00
All Request Sunday Nikki
NEXT: 19:00 - 20:00 Nuut in Afrikaans with Nikki
Listen Live Streams

Central SA

Man van Welkom ná agt maande vas weens bedrog

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 11:22 Sun, 18 May 2025

Man van Welkom ná agt maande vas weens bedrog | News Article
Die verdagte was agt maande op vrye voet. Foto verskaf

'n Verdagte wat vir meer as agt maande op vlug was, sal na verwagting Maandag (19/5) in die hof verskyn na bewerings van bedrog.

Daar word beweer dat die slagoffer (59) op 11 November 2024 kontak gemaak het met die verdagte (49) wat beweer het dat hy ’n geregistreerde kredietverskaffer is wat voertuigfinansieringsbystand deur die Nasionale Kredietreguleerder aanbied, sê sers. Palesa Thabana, polisiewoordvoerder.

"Die verdagte het glo voorheen die slagoffer se vrou bygestaan met die aankoop van 'n voertuig op ’n veiling."

Thabana sê die slagoffer het glo 'n bedrag van R130 000 in die verdagte se bankrekening gedeponeer nadat die verdagte belowe het om ’n Hyundai H1 deur 'n veiling te bekom.

‘Die geld is glo vir persoonlike en reisuitgawes gebruik’

"Nadat die verdagte die geld ontvang het, het hy na bewering versuim om die voertuig vir die slagoffer te koop. Daar word verder beweer dat hy die R130 000 vir sy persoonlike en reisuitgawes gebruik het."

'n Saak van bedrog is Donderdag (9/1) in Welkom aanhangig gemaak.

Thabana sê die verdagte is Vrydag (16/5) in Mofolo-Sentraal, Soweto, deur die Welkom-handelsmisdaadeenheid opgespoor en in hegtenis geneem. Hy sal Maandag in die Welkom-landdroshof verskyn.

In ‘n ander onverwante saak is ‘n Vrystaatse vermiste tiener ná byna twee weke gevind.

Deidra Bonolo Seitheiso. Foto verskaf

Deidra Bonolo Seitheiso (16), 'n gr. 9-leerder van die Hoërskool Parys wat sedert 1 Mei vermis was, is Saterdag (17/5) ongedeerd gevind. Sy is laas by ’n vulstasie in die dorp gesien.

Volgens haar ma, Adri, is sy in Randburg in Johannesburg gevind danksy die toegewyde werk van polisielede wat die afgelope twee weke na haar gesoek het

Sy het vroeër aan OFM Nuus gesê dat sy Maandag (12/5) ‘n boodskap van haar dogter ontvang het. Sy het haar om verskoning gevra vir wat aangaan en gesê sy is verward en weet nie waar sy is nie. "My dogter het vir my gesê dat sy vir ongeveer 'n week nie geweet het waar sy is nie, maar dat iemand met die naam Sammy haar help.

‘Geen verdere inligting is bekend nie’

Sy het ook vir haar dogter gevra om vir haar ‘n ligging te stuur sodat sy haar kan kom haal, maar sodra hulle meer inligting soek, was haar foon afgeskakel.

Adri glo die ontvoering het te doen met mensehandel omdat sy ‘n vreemde boodskap in Engels van haar dogter se foon ontvang het, maar hulle praat Afrikaans.

Volgens Josephine Rani, Vrystaatse polisiewoordvoerder, is geen verdere inligting bekend oor waar Deidra was nie.

OFM Nuus dg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.