On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Central SA

Van plakkershut tot Kovsies-meestersgraad: Andrew Maseba se inspirerende reis

───   13:22 Wed, 28 May 2025

Van plakkershut tot Kovsies-meestersgraad: Andrew Maseba se inspirerende reis | News Article
Andrew Maseba van Brandfort. Foto verskaf

Andrew Maseba van Brandfort se kinderjare was nie aldag maklik nie. Hy het grootgeword in ’n plakkershut met net drie vertrekke en elf familielede.

Maar ondanks armoede, swaarkry en beperkte geleenthede, het hy vandag vyf akademiese kwalifikasies en is hy ingeskryf vir ’n doktorsgraad in praktiese teologie aan die Universiteit van die Vrystaat (UV).

Maseba is in 1985 in Johannesburg gebore waar sy ma as huiswerker gewerk het. Op tweejarige ouderdom het hy saam met sy ouma en ander gesinslede na Brandfort verhuis. Sy ma, wat later in Pretoria gewerk het, het hulle slegs een of twee keer per jaar besoek. Al het hy sy pa geken, was hy afwesig, en dit was sy ouma en ma wat die kinders versorg het.

Andrew Maseba en prof. Juanita Meyer. Foto verskaf

Hoewel die lewensomstandighede haglik was, was daar ten minste ’n dak oor hul koppe. Sy ma se geringe inkomste was soms nie genoeg vir kos nie. Party van sy sibbe moes skool verlaat omdat hulle nie skoolgeld kon bekostig nie en dus nie hul rapporte ontvang het nie. Sy broer Meshack moes die skool verlaat toe hy in graad 12 was en het elke dag vir Andrew by die skool gaan haal. Soms het hy op afvalhope na kos gesoek.

Meshack het skrootmetaal versamel en verkoop om kos te koop. Hy het later werk gekry by Theunie Kloppers se suster en ook vir Kloppers self gewerk, wat jare lank ’n gewilde restaurateur in Bloemfontein was. Dít het hulle lewensomstandighede ietwat verbeter.

Maseba onthou: “Ek sal my broer altyd dankbaar wees vir alles wat hy vir my gedoen het om ’n akademiese loopbaan te volg.” Hy het aanvanklik in 2004 by die UV aansoek gedoen om regte te studeer, maar is nie aanvaar nie. In 2007, ná ’n paar jaar van werkloosheid, het Meshack hom aan Theunie Kloppers voorgestel. Sy het hom af en toe as hulpwerker by haar spysenieringsonderneming gebruik.

Andrew Maseba is ook ’n geregistreerde pastorale terapeut en bied berading aan onderwysers en leerders. Foto verskaf

Tydens een van hierdie werksgeleenthede het hy by die UV se mediese fakulteit kos afgelewer en gesien hoe studente jonger as hy akademiese drome najaag. Dit het hom geïnspireer om self aan te meld. Ná navorsing oor moontlike studierigtings is hy in die Fakulteit vir Opvoedkunde aanvaar. Hy het sy studies aangepak terwyl hy steeds vir Kloppers gewerk het – eers by Iets Niets en later by Pimento, haar kampusrestaurant.

In 2016 het hy sy B.Ed.-graad (Senior en VOO-fase) voltooi. Daarna het hy vir twee jaar as onderwyser gewerk voordat hy verder gestudeer het. Hy het sy PGDiP in kurrikulumstudies in 2019 behaal, ’n gevorderde diploma in teologie in 2022, B.Th. (honneurs in praktiese teologie) in 2023 en sy M.Th. (praktiese teologie) in 2025. Hy is tans besig met sy doktorsgraad, wat hy in 2027 wil voltooi.

Hy is getroud, het vier kinders, en werk sedert 2016 as onderwyser by Matshediso Intermediate School in Brandfort. Hy was ook aan Hoërskool Harmony op Virginia verbonde. “Dit is uitdagend om te studeer, skool te hou én pa te wees, maar ek geniet dit,” sê hy.

Andrew Maseba. Foto verskaf

Maseba is ook ’n geregistreerde pastorale terapeut en bied berading aan onderwysers en leerders. “Ons onderwysstelsel verwag prestasie ten spyte van sosiale uitdagings. Ek wil leerders help om dit te oorkom.”

Hy beskryf homself as vasberade, hardwerkend en onselfsugtig. “My vreugde is om iemand te help om die regte besluite te neem. Ek is dankbaar dat ek reeds vyf studente kon help om verder te studeer.”

Maseba is ook ’n bekwame kok en het baie by Kloppers geleer. Sy gunstelinggeregte is gebakte aartappels, roomspinasie, pork belly en tong. Hy hou daarvan om te lees oor praktiese teologie en pastorale berading en noem skrywers soos Richard Osmer en Elias Mpofu onder sy gunstelinge.

“Moet nooit toelaat dat jou omstandighede of velkleur jou definieer nie.” Foto verskaf

“My geloof het my staande gehou. Ek vind vertroosting in die Bybel. In my vrye tyd is ek besig met akademiese werk.” Sy droom is om ’n professor te word en leierskap in die onderwyssektor te bied. Hy bestuur tans ’n beradingskantoor op sy skool.

“My ouma het my gevorm en geleer om reg en verkeerd te onderskei. My ma het haar hele salaris vir ons gestuur – soms het sy net genoeg gehad vir ’n brood vir die naweek. My broer Meschack het sy toekoms opgeoffer vir ons s’n. En dan is daar Theunie Kloppers – my streng maar liefdevolle mentor. Sy het vir my hoop gegee.”

Andrew sluit af met ’n boodskap: “Moet nooit toelaat dat jou omstandighede of velkleur jou definieer nie. Ons wat oorleef het, het ’n verantwoordelikheid om ander te help. Geloof in God en in jouself is die begin van alles.”

OFM Nuus/Susan Maré cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.