Central SA
Astrid bied diere op Oos-Vrystaatse plaas ’n paradys─── 09:30 Fri, 20 Jun 2025

Om respek vir diere te hê, maak van ons beter mense, het dr. Jane Goodall, die wêreld se voorste kenner oor sjimpansees, eenmaal gesê.
Op Bruwershoop, ’n plaas naby Bethlehem waar dr. Astrid Jankielsohn en haar man, dr. Roy Jankielsohn, Vrystaatse DA-leier woon, is daar groot respek tussen mens en dier.
Honde, varke, perde, donkies, ganse, skilpaaie, krimpvarkies, muishonde en ander het hier ’n welkome tuiste gevind waar hulle in vrede saamleef. Blinkvet en gelukkig. Daar is selfs ’n sebra, wat dink hy is ’n perd, en ’n takbok, wat af en toe sy verskyning maak. Dit klink egter of die Jankielsohns se troetelhonde baas van die plaas is.
Diere wei in ‘n beeldskone omgewing van weidingsveld op Bruwershoop. Foto: Susan Maré
Astrid is ’n senior navorser by die Landbounavorsingsraad Kleingraan op Bethlehem en werk hoofsaaklik met die Russiese koringluis. Sy kyk ook na alternatiewe maniere vir beheer wat omgewingsvriendelik is.
Insek-ekologie is haar groot belangstelling, en sy het haar doktorsgraad aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) verwerf oor die invloed van habitatverandering op miskruiers.
Dié boorling van Bloemfontein se ouers was prof. Ockert Geyser van die UV en Erika (née Zitlau), wat ’n bibliotekaresse by NALN was. Albei is in 2022 oorlede.
‘n Blinkvet, gelukkige lewe op ‘n plaas naby Bethlehem. Foto: Susan Maré
Haar liefde vir diere het kleintyd begin. “Ek was maar ’n sensitiewe kind en baie antisosiaal en het my net gemakliker gevoel met diere as met mense.
“Ons het elke jaar in die Drakensberg gekampeer en daar het ek die natuur leer ken. Ek was ses jaar toe ek ’n National Geographic-film in die kamp gesien het en veral hoe chemiese middels die diere beïnvloed.
“Dit het so ’n indruk op my gemaak dat ek my daardie aand aan die slaap gehuil het. Die volgende dag het ek vir my ouers gesê ek weet wat ek met my lewe wil doen: Ek wil die diere help.”
Astrid Jankielsohn is verskillend lief vir elke dier, tog dink sy dis die honde wat die naaste aan haar hart is. Foto verskaf/Astrid Jankielsohn
Sy het daarna allerhande diere in die huis ingesmokkel en onder haar bed weggesteek. Daar was mettertyd ook voëls – soos budgies, kokketiele en papegaaie – en insekte. Sy het ’n bidsprinkaan gehad wat op haar gordyn gewoon het en stroop van haar vinger geëet het.
Sy wou geen van die diere in hokke sit omdat sy geen dier van sy vryheid wou beroof nie. Haar ouers het soms van die diere laat “verdwyn” en vermoedelik na die DBV geneem.
“Wanneer ’n dier se wilde of bang oë sag word, weet ek hulle vertrou my en is nie meer bang nie.”
Honde, varke, perde, donkies, ganse, skilpaaie, krimpvarkies, muishonde en ander het hier ’n welkome tuiste gevind waar hulle in vrede saamleef. Foto: Susan Maré
Toe haar man haar eendag vra hoe sy weet dat ’n dier nie vir haar bang is wanneer sy in sy ruimte kom nie, het sy gesê sy weet as hulle oë sag word. Sy weet dat hulle haar dan vertrou. Eers daarna gee sy hulle ’n naam wat pas en iets beteken volgens hul geaardheid.
“Ek is lief vir alle diere. Van hulle is meestal oud, maar jong diere kom ook by my uit. My groot liefde en respek is veral vir insekte en dit is seker vir hulle wat ek die grootste bewondering het. Ek is verskillend lief vir elke dier, tog dink ek dis die honde wat die naaste aan my hart is.”
Sy het haar man ontmoet toe sy besig was met haar nagraadse studie. “Ons is in 1996 getroud en het in Bloemfontein in ’n klein meenthuis met drie honde gewoon. Ek het elke middag met hulle in die veld gaan stap sodat hulle kon hardloop.
Die vertrouensverhouding tussen Astrid Jankielsohn en al die diere op haar en haar man, Roy, se plaas, is opvallend. Foto: Susan Maré
“Ons woon sedert 2006 op die plaas waar daar nou meer as net honde is. Hoekom hier? Roy antwoord mense altyd: ‘Sodat Astrid met haar honde kan gaan stap.’”
Sy was altyd bewus van diere wat verwaarloos, mishandel is of geen heenkome het nie. Honde wat nie meer deur ander versorg kan word nie, het by haar beland.
Op die plaas het die dierefamilie gegroei, soms diere van die DBV en soms van mense. Daar is selfs ’n hond wat op sy eie daar aangekom het. Mischa het duidelik snuf in die neus gekry dat Bruwershoop vir hom ’n wonderlike tuiste sal wees toe sy hom voor ’n plaashek kry waar hy sit en wag het.
Die plaasdam is ‘n plek van gemeensame samekoms in ‘n welige omgewing by die dam op Bruwershoop. Foto: Astrid Jankielsohn
“Die dood van ’n troeteldier is moeilik en ek het dit al baie in my lewe ervaar.”
“Dit voel elke keer asof ek ’n stukkie van my hart verloor by die dood van ’n geliefde dier. Gelukkig het ons as mense groot harte, so ons kan maar stukkies uitdeel.
“Dit maak regtig nie vir my saak hoe lank ’n dier leef of hoe oud hy is of was nie. Vir my is dit die belangrikste dat die dier in vrede kon doodgaan en dat iemand hom of haar liefgehad het – dat die dier nie êrens op ’n sementvloer in vrees en sonder liefde dood is nie.
Astrid Jankielsohn sê diere is baie goed vir die mens, hoewel die meeste mense nie so goed vir diere is nie. Foto verskaf/Astrid Jankielsohn
“Alle lewe is vir my kosbaar en ons moet die lewe om ons – mense en diere – met liefde en respek hanteer.”
Om in die veld te kan stap en die natuur te geniet gee vir haar groot vrede. “Ek is vreeslik lief om in die veld te stap en kyk na iets uit alle hoeke en vind vrede. Die natuur gee genesing en die diere is altyd daar om my beter te laat voel.
“Die plaas is natuurlik en hoewel daar skuilings gebou is vir die diere gebruik hulle dit nie altyd nie maar skuil onder bome. Hulle het grasveld vir goeie weiding hoewel sy ekstra voer in die winters gee. Daar is ook ’n dam.
“Die honde het almal kussings, maar dit is net ’n voorstel aan hulle; hulle verkies om saam met Astrid en Roy op die bed te slaap.”
Haar belangstelling in kruie baat ook haar diere
Kruie is ’n jare lange belangstelling vir Astrid omdat dit ’n afweerder vir plaaginsekte is en die predatore en parasitiese insekte lok. Sy wou sien hoe dit werk en het sommer in haar tuin begin kruie plant om te sien watter insekte dit lok.
Sy het meer gelees oor hoe die volatiles en aktiewe bestanddele werk en besef dat ’n mens kruie vir baie doeleindes kan gebruik. “Ek het in 2009 ’n kursus geloop in die maak van kruiemedisyne en sedertdien gebruik ek dit vir myself en die diere.
“Ek gee soms ook vir mense wat in my medisyne belangstel. Ek gee vir die ouer diere smeerworteltinktuur in hulle kos. Dit help vir die pyn van artritis.
Varke is van die mees intelligente diere op aarde. Hierdie varke het ‘n gelukkige heenkome gevind en dink nie terug aan die swaarkry-omstandighede waarvan hulle gered is nie. Foto: Susan Maré
“Ek gee ook wildeals vir al die diere wat help vir interne parasiete en die ondersteuning van die immuunstelsel. Vinkel help weer vir koliek en maagkwale soos diarree en opgeblasenheid.
“Sitroenkruid kalmeer diere wat baie senuweeagtig is. Ek maak gewoonlik tinkture, dan gooi ek die druppels in die diere se kos. Ek maak ook salwe wat goed werk vir wonde, kneusplekke en seer spiere. So is daar ’n krui vir elke kwaal.”
‘Donkies is soms steeks en moeilik omdat hulle so slim is!’
Donkies dom? Nee! Diere is intelligenter as wat ’n mens dink, sê sy. Soos mense is diere verskillend intelligent en die intelligensie is relatief, dit hang van die omgewing af en hoe die diere aanpas veral as die omgewings heeltyd verander. Varke en donkies is besonder goed daarmee, volgens Astrid.
Sy dink donkies is soms steeks en moeilik omdat hulle so slim is. Hulle weet, soos varke, waarmee hulle kan wegkom, soos dat hulle maklik ’n pad deur ’n heining sal vind as hulle aan die anderkant wil kom.
“Wat emosionele intelligensie en omgee betref, dink ek diere is die mens een voor. Familiebande is geweldig sterk en donkie- en perdevullens bly by die ouers as hulle toegelaat word totdat die ouers doodgaan.
“’n Mens kan hulle omgee en liefde vir mekaar sien. Varke en honde is dieselfde. Dis hoekom my hart breek as diere so vroeg van hul ouers geskei word. Ek sal nooit ’n dier van ’n diereteler koop nie.
‘Diere vorm ook sterk bande oor spesiegrense’
“Behalwe sterk familiebande vorm diere oor spesiegrense ook sterk bande. Daarteenoor sukkel die mens om, byvoorbeeld, mense van ander godsdienste, kulture en rasse te aanvaar. Ek dink diere is in daardie opsig beter as mense en ons kan baie by hulle leer.”
Diere is nie ’n besitting of slaaf nie, maar het ’n diep intrinsieke waarde. ”Diere is goed vir ons en maak die mens deel van die Groter Skepping waarin ons leef.”
Astrid sê diere is baie goed vir die mens, hoewel die meeste mense nie so goed vir diere is nie. Diere aanvaar ’n mens onvoorwaardelik met ons foute en al en is altyd bly om kontak te maak.
“Ek dink die mens het homself te veel geïsoleer van die natuur en ons het so baie verloor. As ons diere op ’n gelyke voet nader en nie van ’n plek waar ons in beheer is nie, dan kan ons vertroue skep en ’n band vorm wat ons weer aan die natuur verbind met helende energie.
“Diere laat ons voel dat ons weer deel is van die groter skepping.”