Central SA
Noord-Kaap se begroting gekritiseer─── CHARNÉ VAN DER MERWE 08:56 Sun, 08 Jun 2025

Die Noord-Kaapse herindiening van die 2025/26 provinsiale begroting is gekritiseer as ’n verbeurde geleentheid om voortdurende mislukkings op beide plaaslike en provinsiale vlakke met betekenisvolle, blywende oplossings aan te spreek.
Die DA het die Noord-Kaapse regering versoek om dringend projek-, kontrak- en gevolgbestuur te prioritiseer, en gewaarsku dat voortgesette fiskale wanbestuur dienslewering en ekonomiese groei ondermyn, sê Fawzia Rhoda, DA-LPW en woordvoerder oor finansies.
“Die fiskale raamwerk bly grootliks onveranderd sedert Maart, asook die provinsiale regering se onvermoë om openbare fondse in tasbare dienste te omskep wat die publiek bevoordeel.”
Rhoda sê daar moet aanvaar word dat dit hoogs onwaarskynlik is dat óf billike deel- óf voorwaardelike toelaetoekennings van die nasionale regering aansienlik sal groei, veral wanneer die Nasionale Tesourie billike deeltoekennings van wanbetalende munisipaliteite in die Noord-Kaap moet terughou.
Partye wat fondse wanbestee
“Dit is dus noodsaaklik vir die Noord-Kaapse provinsiale tesourie om ’n beter standaard van kontrak-, projek- en gevolgbestuur af te dwing sodat elke sent van die openbare beursie tot die openbare voordeel bestee word en sodat wanbestede fondse van die skuldige partye verhaal kan word.”
Volgens die DA lê ’n lang pad voor om groter finansiële vryheid vir die provinsie te verseker nadat verliese gely is deur wangedrag of die onnodige aangaan van ongemagtigde, onreëlmatige, vrugtelose en verkwistende uitgawes.
“Ons verwelkom die verbintenis van Venus Blennies-Magage, die lid van die uitvoerende raad vir finansies, ekonomiese ontwikkeling en toerisme, dat sy kwartaallikse verslae aan die Noord-Kaapse provinsiale wetgewer sal verskaf oor die provinsie se finansiële gesondheid,” sê Rhoda.
LEES OOK: Noord-Kaapse premier gee toe oor R1 miljard-behuisingsprojek – DA
“Ons stel veral belang in pogings om plaaslike regerings te help, waar onbetroubare water, onbekostigbare elektrisiteit en algemene agteruitgang dit moeilik maak vir KMMO’s om te groei en om die ekonomiese geleenthede te skep wat nodig is om eie inkomstegenerering en -invordering te bevorder.”
Rhoda sê hulle sal voortgaan om die implementering van die begrotingsrede wat vandag ter tafel gelê is, te monitor om te verseker dat kontrak-, projek- en gevolgbestuur in die provinsiale regering geprioritiseer word.
OFM Nuus cg