Central SA
Olifantvrou se lot nou in aanklaer se hande─── CHARNÉ VAN DER MERWE 14:46 Thu, 26 Jun 2025

Die moordsaak teen die eienaar van Tswale Educational Elephant Interactions is uitgestel tot 14 Augustus, hangende ’n besluit van die senior staatsaanklaer.
Sonell Joubert (45) het Donderdag (26/6) in die Tonga-landdroshof in Mpumalanga verskyn op aanklagte van voorbedagte moord en ’n bylae 6-oortreding, sê Monica Nyuswa, NVG-woordvoerder.
Joubert word daarvan beskuldig dat sy Jurgens Nel (45) in Februarie meermale met ’n mes in die bors en maag gesteek het. Die ondersoek, tesame met die nadoodse ondersoek, is reeds voltooi.
Joubert het op 8 Mei onder eed verklaar dat sy uit selfverdediging opgetree het en beweer sy het ’n mes gebruik nadat Nel haar na bewering aangeval het, sê Nyuswa.
Sy het ’n paar dae voor sy dood ’n beskermingsbevel teen hom verkry, wat hy na bewering oortree het.
Tydens ’n vorige hofverskyning het Joubert versoek dat die saak herklassifiseer word as ’n bylae vyf-oortreding. Sy het ook gesê sy is bereid om haar paspoort in te dien.
Sy het aan die hof gesê indien borgtog toegestaan word, sal sy die Life360-app installeer sodat die ondersoekbeampte haar bewegings deurentyd kan dophou.
Daar is aanvanklik aangevoer dat sy staatsgetuies sal beïnvloed terwyl sy op vrye voet verkeer.
Die Mpumalanga-afdeling van die Hooggeregshof het op 29 Mei wel borgtog aan haar toegestaan, wat die Tonga-landdroshof se vroeëre besluit om haar vrylating te weier, tersyde gestel het. Sy is borgtog van R15 000 met streng voorwaardes toegestaan.
Sonell Joubert. Foto: Facebook/Sonell Joubert
Die polisie het op 3 Februarie die plaas Lowhills besoek om Nel in hegtenis te neem weens die oortreding van ’n beweerde beskermingsbevel. Beamptes het egter in sy kamer op sy liggaam afgekom.
Paramedici het hom op die toneel dood verklaar. Blykbaar het Nel reeds die vorige dag gesterf. Joubert is later dieselfde dag in hegtenis geneem en bly sedertdien in aanhouding.