On Now
Weekends 06:00 - 09:00
Weekend Breakfast Gerben
Show Background
NEXT: 09:00 - 12:00 The Central SA Top 30 with Laurika
Listen Live Streams

Central SA

Boere- en taxiverenigings van Clocolan sluit R708 onbepaald oor regering swyg

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 10:59 Wed, 09 Jul 2025

Boere- en taxiverenigings van Clocolan sluit R708 onbepaald oor regering swyg | News Article
Die Marquard-Clocolan-pad. Foto verskaf

Inwoners van Clocolan beplan drastiese stappe nadat herhaalde pleidooie vir die herstel van die gevaarlike R708-pad volgens hulle deur die Vrystaatse regering geïgnoreer is.

Die R708 tussen Clocolan en Marquard sal Donderdag (10 /7) vanaf 08:00 gesluit wees, en sal tot verdere kennisgewing gesluit bly.

Dit kom nadat die Clocolan-boerevereniging, die plaaslike taxivereniging en ander belanghebbendes in die gemeenskap volgens hulle deur die regering geïgnoreer is, ten spyte van herhaalde versoeke om die gevaarlike toestand van die pad aan te pak. Andries van Rooyen, voorsitter van die boerevereniging, sê hulle het geen ander keuse as om tot die sluiting oor te gaan nie.

Foto ter illustrasie: Flickr

In ’n formele brief aan Jabu Mbalula, LUR vir paaie en vervoer, kla die verenigings dat alle pogings om die departement te betrek, met stilswye of onprofessionele behandeling beantwoord is.

“’n Vergadering wat vir Dinsdag (8 Julie) geskeduleer was om dringende padveiligheidskwessies te bespreek, is deur die LUR se kantoor geïgnoreer.” Ook ’n poging Maandag (7 Julie) is deur ’n amptenaar afgewys, sê Van Rooyen.

LEES OOK: Herstelwerk begin binnekort aan een van ‘swakste paaie in Vrystaat’

Hy sê die gebrek aan reaksie laat hulle met geen ander keuse as om op te tree nie. Die verenigings beklemtoon in die brief dat hierdie optrede ’n laaste uitweg is nadat alle ander kommunikasiekanale uitgeput is.

Van Rooyen sê die padsluiting sal vreedsaam plaasvind, en daar sal ’n noodbaan oop wees vir nooddienste, die polisie en voertuie wat kontant vervoer.

LEES OOK: Motoriste in die Vrystaat kan lang tye wag weens verskeie padwerke

“’n Memorandum van eise sal tydens die sluiting op die Marquard-pad aan die LUR of ’n afgevaardigde oorhandig word. Die pad sal gesluit bly totdat die memorandum formeel in ontvangs geneem is en daar betekenisvolle betrokkenheid van die LUR se kantoor volg.”

Teen Woensdagmiddag het die LUR se kantoor nog nie op die brief gereageer nie.

OFM Nuus mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.