On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Gerben
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Inspiration

Vrystaat Kunstefees bied vonk om verbeelding te laat vlam vat

───   CORNÉ GREYVENSTEIN 09:00 Wed, 16 Jul 2025

Vrystaat Kunstefees bied vonk om verbeelding te laat vlam vat | News Article
Die groep is nie net touwys gemaak nie, maar gelei sonder beperkings met ruimte om te verken. Foto: Corné Greyvenstein

Harpuis het sy eie wil – hy vloei waar hy wil, borrel wanneer jy dit nie verwag nie en versteek aanvanklik sy ware kleure. Maar juis daarin lê die wonder wat ontvou in ’n dans van kleur en lig; en dan word die oomblik vasgevang.

Die Bloemfonteiner Nelmari Oosthuysen van A Peace of Art het spesiaal ’n werksessie ontwerp vir leergieriges, wat die fassinerende wêreld van dié vloeibare kuns in ’n ontspanne, gesellige omgewing wou verken – onder haar ervare en beskermende oog.

Deelnemers is stap-vir-stap op die Vrystaat Kunstefees gelei na betowerende resultate.

Harpuisgietwerk is ’n fassinerende kunsvorm waarin hars met ander produkte gemeng en oor ’n oppervlak gegiet word. Dit verhard in ’n glansende, glasagtige afwerking deur chemiese prosesse, soos polimerisering en oksidasie. 

Hierdie tegniek bied eindelose kreatiewe moontlikhede, van abstrakte patrone tot oseaaneffekte en marmerontwerpe, soos deur Oosthuysen gedemonstreer, en is maar een van die tientalle kunsvorme wat sy al bemeester het. 


Die groep het geroer, gewonder, gemeng, gegiet, gelag, geblaas, en gewag vir ’n klein stukkie van hulself – ’n herinnering vasgelê vir altyd. Dis terapie met glans en glinster – ’n stil vreugde wat lank nadat die resin verhard het, by jou bly.


“Toe wys ek eendag mense gou hoe om découpage te doen. In dié klas, besef ek toe, maar daar is soveel oorvleuelings – prosesse wat ek in sielkunde beleef het en dit wat in die klasse gebeur het. Daar het die hele idee van kunsterapie tot stand gekom … eintlik in my geval, kunsontwikkeling, wat méér my passie is. En dit is waar die proses begin het, lank voordat daar nog ’n woord soos kunsterapie was.”

Mense het toe produkte begin soek, vertel sy. “Maar ons kon nie genoeg produkte kry nie, want 20 jaar gelede was daar nog nie soveel kunswinkels nie. Dit is toe wat ons begin produkte inkry het, die winkels ontstaan het en my rigting heeltemal verander het.”

Sy geniet dit om te sien hoe ander dit geniet om iets reg te kry, “want ons dink so dikwels ons kan nie goed regkry nie. Daardie bevredigende uitdrukking op ’n mens se gesig … wanneer hulle dit só geniet as hulle iets regkry … dit is vir my so verskriklik bevredigend dat ek (amper) self nie eens hoef kuns te doen nie.”


Die tafel was ’n kaleidoskoop van drome: kleurryke pigmentpoeiers, blinkers, inkverf, en selfs stukkies goue en brons foeliepapier. As jy ’n kunstenaar is, of net iemand wat mooi wil mors, dan is hierdie werksessie ’n uitnodiging: om te speel, om stil te staan, en om ’n oomblik in tyd in jou hart te bewaar.

Besoek die Vrystaat Kunstefees se program vir ander aanbiedings van Mebala-bala, kuns en welstand: 

Writing as Therapy; Sintuiglik Skeppend, Soul Collage; Vrystaat Nasorg’s Candle Decorating Station; Sip & Paint; Pattern Drafting; Kinder-klippekuns; Maak Jou Eie Blomme; Polimeerklei-oorbelle; Sloernaaldwerk-werksessie; Parfuum-werksessie; Naaldwerk-werksessie; Macrame – Traditional Plant Hanger (Beginners Workshop); Macrame – Wall-hanging Plant Holder (Advanced Workshop); Knooking Workshop; Hand-kwiltwerk; Finger-knitting Workshop; Come Play with Linocut; Stick and Figures Drawing Workshop en meer.

OFM Nuus/Corné Greyvenstein

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.