Central SA
Bloemfonteinse verdagtes in mensehandel, poging tot moord kry borgtog─── ZENANDE MPAME 06:00 Fri, 18 Jul 2025

Die vier verdagtes in ’n saak van mensehandel, verkragting en poging tot moord se verhoor in die Bloemfonteinse landdroshof is uitgestel tot Donderdag 14 Augustus vir verdere ondersoek.
Al vier verdagtes het Donderdag (17/7) borgtog gekry. Alicha Britz (29) is op R10 000 borgtog vrygelaat en Francois van der Merwe (34) op R5 000. Albei moet drie keer per week om 11:00 aanmeld by hul naaste polisiekantoor: Britz by Bainsvlei en Van der Merwe op Secunda.
Aanklagte is vroeër teen Britz aanhangig gemaak dat sy haar dogters seksueel gemanipuleer en aan pornografie blootgestel het, het kapt. Linda Steyn, die ondersoekbeampte wat Woensdag in die hof getuig het, gesê. Sy word ook aangekla van die onwettige besit van ’n vuurwapen.
Rian Mulder (56) en Raoul Hartman (59), wat reeds vroeër op R3 000 borgtog elk vrygelaat is, verskyn weer in Augustus saam met die ander beskuldigdes. Hartman is ’n voormalige adjudant-offisier van die Valke wat tot 2019 gedien het.
“Al die beskuldigdes is op streng borgvoorwaardes vrygelaat,” sê Mojalefa Senokoatsane, Vrystaatse NVG-woordvoerder. “Britz moet drie keer per week om 11:00 by die Bainsvlei-polisiekantoor aanmeld. Van der Merwe moet by die Secunda-polisiekantoor aanmeld. Geeneen mag kontak hê met hul medebeskuldigdes nie.”
In die hof is ook onthul dat Britz se kinders uit haar sorg verwyder is en nou in pleegsorg en ’n jeugsorgsentrum geplaas is. Sy staan alleen tereg op mensehandel, terwyl haar medebeskuldigdes aangekla word van verkragting, poging tot moord en mensehandel.
Daar word beweer dat die slagoffer (26) in Julie 2022 op ’n Facebook-advertensie afgekom het vir werk as kroegmeisie by ’n mansklub in Ferreira, Bloemfontein. Ná ’n gesprek met die eienaar is reëlings getref om haar vanaf Ventersburg na Bloemfontein te bring.
’n Paar dae later het die klubeienaar en sy bestuurder haar Bloemfontein toe gebring. By aankoms is sy na die huis van een van die beskuldigdes geneem, waar sy glo bedwelm, seksueel aangerand en herhaaldelik deur ’n groep mans verkrag is.
Blykbaar het sy eindelik deur ’n badkamervenster ontsnap en hulp gesoek. Daar is voorts beweer dat Britz foto’s en video’s van die verkragting geneem het.