Central SA
Geregtelike doodsondersoek ná dood van NWU-student─── ZENANDE MPAME 06:00 Fri, 18 Jul 2025

Noordwes-polisie doen ’n geregtelike doodsondersoek ná die ontdekking van die liggaam van ’n student (21) van die Noordwes-Universiteit (NWU) in ’n pakkamer van ’n koshuis op die Potchefstroom-kampus.
Jonathan Gouws se liggaam is Woensdagoggend (16/7) deur ’n koshuisvader en ’n medestudent gevind ná verskeie onsuksesvolle pogings om hom in die hande te kry.
Gouws was ’n inwoner van Ratau Lebone-manskoshuis, waar hy as huiskomiteelid gedien het, maar studente gaan vanjaar tuis in die Kom-en-Gaan-gebou, wat as tydelike huisvesting gebruik word tydens die opknapping aan NWU-koshuise.
“Die polisie doen ’n geregtelike doodsondersoek ná die ontdekking van ’n student se liggaam in ’n stoorkamer van ’n koshuis op die Potchefstroom-kampus,” sê Sam Tselanyane, Noordwes-polisiewoordvoerder. “Geen misdaad word vermoed nie.”
“Die NWU-gemeenskap is diep geskok nadat dit bekend geword het dat ’n student (21) se liggaam in die stoorkamer van een van die manskoshuise gevind is,” sê Louis Jacobs, NWU-woordvoerder.
“Ons het onmiddellik berading gereël vir alle studente en personeel wat hierdeur geraak is, en dieselfde sal aan sy ouers en familie verskaf word sodra hulle in Potchefstroom aankom.”
Die universiteit betuig ook sy innige meegevoel met die familie, vriende en medestudente van die oorledene, sê hy.
Gebruikers op sosiale media het hul skok uitgespreek oor Gouws se dood, terwyl ander roerende boodskappe gedeel het oor herinneringe wat hulle met hom gehad het. ’n Brief van die Studentekampusraad 2024/25 beskryf hom as “ ’n integrale deel van ons kampusgemeenskap. Sy teenwoordigheid sal diep gemis word.”
Dit is die derde NWU-student wat sedert die begin van die jaar hul lewe verloor het. In Mei het ’n tuinwerker die liggaam van ’n student in ’n dam op die Vanderbijlpark-kampus gekry.
Mojalefa Nthebe (20) was ’n tweedejaarstudent in Bedryfsielkunde. Die polisie op Vanderbijlpark het die oorsaak van sy dood ondersoek.
In dieselfde week is Vilano Saunders (20) aan ’n nekbesering oorlede in die Sebokeng-hospitaal nadat hy ernstig beseer is in die eerste halfuur van ’n wedstryd vir die NWU o.21-span op die kampus.