On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
Show Background
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Drie eersdaags gevonnis, vyf jaar ná moord op Noord-Kaapse sakevrou

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 12:12 Tue, 22 Jul 2025

Drie eersdaags gevonnis, vyf jaar ná moord op Noord-Kaapse sakevrou | News Article
Foto: Unsplash/Tingey Injury Law Firm

Vyf jaar nadat ’n Noord-Kaapse sakevrou (71) tydens die Covid-19-inperking vermoor is, is die beskuldigdes skuldig bevind.

Hulle sal na verwagting van 3 tot 5 September weer in die hof verskyn vir vonnisoplegging.

Die drietal is Vrydag (18/7) in die hooggeregshof op Upington skuldig bevind aan onder meer roof met verswarende omstandighede, moord en medepligtigheid ná die daad, sê Mojalefa Senokoatsane, NVG-woordvoerder.

Judith Redelinghuys se liggaam op 30 Junie 2020 deur haar dogter, Leanne Arnon, gevind nadat sy ondersoek ingestel het omdat sy nie haar ma in die hande kon kry nie.

Redelinghuys het op haar maag gedryf in haar swembad tuis in ’n veiligheidskompleks op Upington. Haar hande was agter haar rug vasgebind, en verskeie kenmerkende juweliersware was vermis.

Nkosinathi Ntombela, ’n vriend van Redelinghuys se tuinier, Tumelo Mavlenter Sotho, is op 4 November 2020 in hegtenis geneem nadat ’n plaaslike pandjieswinkel wetstoepassers ingelig het oor ’n man wat probeer het om ’n duur ring te verkoop.

Volgens Senokoatsane is later bevestig dat die ring spesiaal vir Redelinghuys in Kaapstad gemaak is.

Martatjie Engelbrecht, ’n vriendin van Sotho, is op 25 Mei 2021 aangekeer en Sotho is die volgende dag in hegtenis geneem. “Sotho en Ntombela is albei skuldig bevind aan moord en roof met verswarende omstandighede,” sê Senokoatsane.

Engelbrecht is skuldig bevind as ’n medepligtige ná die daad, maar vrygespreek op die aanklag van regsverydeling. Sy het eers probeer om die ondersoekbeamptes te mislei deur in ’n beëdigde verklaring te beweer dat die ring wat Ntombela probeer verkoop het, aan haar behoort het.

“Hierdie wanvoorstelling het gelei tot Ntombela se tydelike vrylating. Verdere ondersoek het die ring egter … met Redelinghuys verbind, wat daartoe gelei het dat Ntombela opnuut aangekeer is, en Engelbrecht daarna.”

In die verhoor het dit aan die lig gekom dat Sotho Redelinghuys se vertroue mettertyd gewen het, sê Senokoatsane, wat dit vir hom moontlik gemaak het om ’n sleutelrol te speel in die beplanning en uitvoering van die rooftog.

Die aanklaers, advv. Jaques Rosenberg en Terché Engelbrecht, het dwingende bewyse aangebied, insluitend selfoonopsporingsdata en ooggetuienis wat die beskuldigde aan die toneel van die misdaad gekoppel het.

Borgtogaansoeke suksesvol teengestaan

Gruwelike besonderhede het tydens die verhoor na vore gekom: Redelinghuys is met ’n elektriese koord verwurg, en ’n voorskoot is oor haar mond en nek vasgemaak voordat haar liggaam in die swembad gegooi is.

Senokoatsane het bevestig al drie beskuldigdes het dwarsdeur die verhoor agter tralies gebly, aangesien die staat hul borgtogaansoeke suksesvol teengestaan het.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.