On Now
Weekends 12:00 - 16:00
Classic Sundays Christie
Show Background
NEXT: 16:00 - 19:00 All Request Sunday with Nikki
Listen Live Streams

Central SA

Prokureur-moordsaak: Vervreemde vrou weer in hof

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 06:00 Mon, 21 Jul 2025

Prokureur-moordsaak: Vervreemde vrou weer in hof | News Article
Wyle André van den Heever. Foto: Facebook/Christopher van den Heever

Die Vrystaatse vrou wat daarvan beskuldig word dat sy haar vervreemde man byna vier jaar gelede noodlottig geskiet het, se verhoor hervat Maandag (20/7) in die Welkomse hooggeregshof vir die verdedigingsfase.

Linda van den Heever (64) staan tereg vir die moord op haar man, André (destyds 64).

Van den Heever het André na bewering op 14 Desember 2021 by hul gedeelde woning, waar hulle steeds saam gewoon het ten tyde van die voorval, doodgeskiet.

André, ’n prokureur, het sy praktyk van dié huis af bedryf.

André van den Heever. Foto: Facebook/Christopher van den Heever

Hoewel hulle geskei was, het hulle in aparte kamers in dieselfde huis gewoon.

Linda het ná die voorval haar gewese vriend, Kiewiet van der Westhuizen, gekontak en na sy huis in Hennenman gery, sê adv. Allen Simpson, haar regsverteenwoordiger. Hulle was destyds al sewe jaar lank in ’n verhouding.

André, Linda en Christopher van den Heever. Foto: Facebook/Christopher van den Heever

Van der Westhuizen het die polisie gekontak met haar aankoms by sy woonstel, waar sy dieselfde dag in hegtenis geneem is.

Die polisie het na bewering ’n .38 Special-rewolwer, patroondoppies en bykomende ammunisie in haar handsak gevind. Volgens Simpson is ’n vorige klagte teen haar, van ’n ongelisensieerde vuurwapen, laat vaar. Hy sê die vuurwapen was in Linda se naam geregistreer. 

In haar weergawe van die gebeure, soos deur Simpson aangebied, het Van den Heever beweer dat sy aangerand, teen die kop geslaan, beheer oor haar blaas verloor het en nie kon onthou wat daarna gebeur het nie.

’n Collage van die Van den Heever-gesin. Foto’s: Facebook/Christopher van den Heever

“Van den Heever hou vol dat sy geen herinnering het aan die skietvoorval of hoe sy in Hennenman beland het nie,” het Simpson gesê.

Linda was byna sewe maande in aanhouding, insluitend een maand in die Vrystaatse Psigiatriese Kompleks. Sy is later op borgtog vrygelaat.

Adv. Eda Liebenberg is die aanklaer.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.