On Now
Weekends 00:00 - 05:00
Early Mornings OFM
Show Background
NEXT: 05:00 - 06:00 Opstaan with OFM
Listen Live Streams

Central SA

Randwater lê beslag op Emfuleni-bankrekening weens R1,7 miljard skuld

───   ZENANDE MPAME 10:50 Fri, 01 Aug 2025

Randwater lê beslag op Emfuleni-bankrekening weens R1,7 miljard skuld | News Article
Emfuleni se kliëntedienskantoor op Vanderbijlpark is gesluit. Foto: Facebook/Emfuleni Municipality

Emfuleni-munisipaliteit vertrou die beslaglegging op sy bankrekeninge deur Randwater sal binnekort iets van die verlede wees.

Die beslaglegging het daartoe gelei dat die kliëntedienskantoor op Vanderbijlpark gesluit is weens niebetaling van huur aan die verhuurder.

Randwater het twee maande gelede beslag gelê op die munisipaliteit se bankrekeninge weens skuld van R1,7 miljard. Dit is die tweede maal in ’n jaar dat beslag gelê word op Emfuleni se bankrekeninge, want in September verlede jaar het Eskom op vier van sy bankrekeninge laat beslag lê.

“Dis nie waar dat al ons eiendomme gesluit is nie,” sê Hassan Mako, Emfuleni-burgemeesterskomiteelid vir finansies. “Dit is een van daardie ongelukkige gevalle waar die verhuurder die kantoor op Vanderbijlpark gesluit het weens niebetaling.


“Dit is omdat Randwater ons rekening gevries het. Ons het al verskeie versoeke deur ons interregeringsverhoudinge-kanale gerig om toegang tot die munisipale rekening te kry … sodat ons noodsaaklike diensverskaffers, insluitend (verhuurders), kan betaal,” sê hy.

Politieke partye waarsku Emfuleni is op die rand van ineenstorting weens voortdurende wanbetalings aan diensverskaffers en krediteure. Die sluiting van die gebou dien as verdere bewys van die ernstige finansiële wanbestuur in die munisipaliteit.

Die VF Plus vra die provinsiale regering moet ingryp. “Die Randwater-rekening wys duidelik dat Emfuleni in ’n ernstige finansiële krisis is,” sê VF Plus-rdl. Gerda Senekal.


“Wanneer ’n munisipaliteit nie eens water of huur kan betaal nie, is dit ’n teken van finansiële bankrotskap. Dienslewering en administrasie is besig om te verbrokkel, en inwoners dra die gevolge.”

Intussen is Emfuleni se finansiële stelsel gesluit weens die niebetaling van instandhoudingskoste aan die diensverskaffer BCX, sê sy. “Hierdie ontwikkelinge het ’n ernstige uitwerking op munisipale bedrywighede en dienslewering.”

Die munisipaliteit voer dringende gesprekke met rolspelers om die situasie op te los en belangrike funksies te herstel, sê Mako. Die munisipaliteit meen Randwater hou hom gyselaar, wat dienslewering kniehalter.

“Die munisipaliteit doen ook ’n beroep op die burgemeester, Sipho Radebe, om leierskap te toon en toe te laat dat die aangeleentheid in die hof opgelos word in belang van dienslewering.”

OFM Nuus/Zenande Mpame

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.