Central SA
Ondersoek duur voort ná Bothaville-verkragting, sê polisie─── ZENANDE MPAME 14:03 Mon, 04 Aug 2025

Die Vrystaatse polisie is steeds besig om die verkragting van ’n 60-jarige vrou te ondersoek wat onlangs helder oordag in haar huis in Bothaville aangeval is.
Die Vrystaatse polisie het bevestig dat die voorval waarin die vrou Saterdag 26 Julie in haar huis in Bothaville aangeval en verkrag is, steeds hul volle aandag geniet.
Die vrou is tans in ’n hospitaal in Welkom waar sy herstel nadat sy ’n operasie moes ondergaan om bloeding op die brein te verlig. Sy is glo drie keer met ’n hamer oor die kop geslaan voordat sy verkrag is.
Volgens kapt. Lorraine Earle, polisiewoordvoerder, is die saak oorgedra na die eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdaad in Welkom. “Die toneel is deur die plaaslike kriminelerekord-sentrum verwerk en alle nodige forensiese materiaal is versamel,” sê Earle.
“Die slagoffer is medies ondersoek, en al die nodige getuienis is verkry.” Die aanval het na bewering in die middel van die dag plaasgevind.
’n Getuieverklaring is afgeneem van iemand wat ná die voorval ’n onbekende man in die omgewing gesien het. Die verdagte se identiteit en blyplek is steeds onbekend.
Jan van Niekerk, leier van die VF Plus in die Vrystaat, het ’n dringende beroep op lt.genl. Baile Motswenyane, provinsiale polisiekommissaris, gedoen om in te gryp ná die gewelddadige aanval. Hy waarsku sou die polisie weet wie die verdagte is, maar nie teen hom optree nie, stuur dit ’n gevaarlike boodskap aan slagoffers en gemeenskappe.
“Niemand in die gemeenskap kon tot dusver die man identifiseer nie, en die ondersoekspan volg steeds elke moontlike leidraad op in hul ondersoek wat op bewyse gebaseer word,” sê Earle. “Ons verstaan die dringendheid van die saak en die kommer van die publiek en burgerlike leiers, maar die polisie is verbind tot geregtigheid.
“Dit is van kardinale belang dat enige arrestasie op verifieerbare getuienis gegrond is, sodat suksesvolle vervolging in die hof kan volg. Ons is dankbaar vir die gemeenskap se ondersteuning en betrokkenheid.
“Elke poging word aangewend om die verdagte vas te trek en om die slagoffer by te staan in hierdie moeilike tyd,” sê Earle.
Die polisie doen ’n beroep op enigiemand met inligting wat kan help om die verdagte te identifiseer of op te spoor, om ao. Anje Tait by 083 279 3213 of die stopmisdaadnommer, 08600 10111, te bel.