On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
Show Background
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Verdagte in Bothaville-verkragtingsaak in hegtenis geneem

───   ZENANDE MPAME 15:28 Thu, 07 Aug 2025

Verdagte in Bothaville-verkragtingsaak in hegtenis geneem | News Article
Verdagte in Bothaville-verkragtingsaak in hegtenis geneem. Foto: iStock

’n Verdagte kom Vrydag (8 Augustus) voor in Bothaville se landdroshof op aanklagte van poging tot moord en verkragting ná die verkragting van ’n inwoner (60).

Die verdagte (34) is Woensdag (1/8) in Kgotsong, ’n woonbuurt van Bothaville, in hegtenis geneem nadat leidrade en bewyse die polisie en buurtwag na hom gelei het. Die inhegtenisneming hou verband met ’n voorval op Saterdag (26/7) toe die slagoffer (60) glo met ’n hamer teen die kop geslaan en tuis op Bothaville verkrag is. 

Sy het ernstige kopbeserings opgedoen en herstel tans by die Mediclinic in Welkom ná ’n operasie om bloeding op die brein te verlig. “’n Ondersoek is ingestel na die beweerde voorval,” sê Palesa Thabana, Vrystaatse polisiewoordvoerder. 

“Die ondersoekspan het bewyse ingesamel en alle moontlike leidrade nagegaan.”


AfriForum se buurtwag in Bothaville beweer hulle het reeds dieselfde dag die verdagte geïdentifiseer met behulp van videomateriaal en hom herken aan ’n bebloede gesteelde baadjie. 

Die verdagte is toe vir ondervraging na die polisie geneem, maar volgens die polisie was die bewyse op daardie stadium slegs omstandigheidsgetuienis en is daar aangevoer dat baie mense soortgelyke baadjies kon besit. Die verdagte is dieselfde dag vrygelaat. 

Na bewering het die eienaar van die baadjie dit op Dinsdag (29/7) as hare geïdentifiseer en gesê niemand anders op Bothaville het so ’n baadjie nie, aangesien dit uit Europa ingevoer is. Dis vroeër gesteel.

’n Ooggetuie het aan die buurtwag getuig dat iemand kort ná die voorval daar verbygestap het, glo met bloed besmeer, en water gevra het om sy arm te was. Dié persoon het die verdagte positief uitgeken.

Die slagoffer het blykbaar die Saterdag pas van die kerk en ’n besoek aan ’n versorgingsoord by haar huis aangekom toe ’n onbekende man glo op haar afgepyl het, haar drie keer met ’n hamer teen die kop geslaan het en haar daarna verkrag het.

Jan van Niekerk, Vrystaatse VF Plus-leier, het onlangs ’n dringende beroep op lt.genl. Baile Motswenyane, Vrystaatse polisiekommissaris, gedoen om in te gryp. Hy het gewaarsku dat die gebrek aan optrede ’n gevaarlike boodskap aan slagoffers en gemeenskappe stuur.

OFM Nuus/Zenande Mpame mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.