Central SA
Oudkaptein vertraag weer hofsaak, dié keer oor taal─── CHARNÉ VAN DER MERWE 13:54 Mon, 18 Aug 2025

’n Oudpolisiekaptein van Welkom het Maandag (18/8) daarin geslaag om weer die hofsaak teen hom en sy vrou te vertraag, die keer deur te beweer dat hy nie Engels verstaan nie en ’n tolk nodig het.
Daniel Jacobus Fourie en sy vrou, Anna Francina, het weer in die Welkomse streekhof op aanklag van intimidasie en crimen injuria verskyn. Met hul vorige verskyning Vrydag het Fourie alle vrae in Engels beantwoord en geen probleme ondervind om te verstaan nie.
Toe hy deur adv. Allen Simpson, hieroor uitgevra is, het hy geantwoord dat hy nie sou stry nie, maar dat hy daarop aandring dat hy die reg het om in sy eie taal ondervra te word.
Daniel en Anna Fourie buite die hof by hul prokureur, Eddy Nkuna. Foto: Charné van der Merwe
Simpson het aan gesê dat hy geen probleem het om vrae in Afrikaans te stel nie, omdat hy Afrikaanssprekend is, maar dat die probleem is dat die beskuldigde se prokureur, Eddy Nkuna, nie Afrikaans verstaan nie.
Nkuna het bevestig dat hy Afrikaans nie ten volle verstaan nie en dat hy die dienste van ’n tolk versoek. Die saak is tot Vrydag uitgestel.
Die verrigtinge is voorheen ook vertraag weens Fourie se herhaalde verandering in regsverteenwoordiging.
Van die graffiti wat ter sprake is in die saka. Foto verskaf
Die aanklagte kom glo weens ’n vete met die bekende sakebroers in die stad, Manny en Jose Jardim. Die paartjie word ook daarvan beskuldig dat hulle jare lank agter graffiti was wat brûe, padtekens en mure oor die Goudveld heen ontsier het, wat gemik was teen die Jardims.
Hulle word verder aangekla van poging tot moord in verband met voorvalle waarin een van die broers se huise na bewering met ’n spykerbom en geweervuur aangeval is. ’n Kind is na bewering rakelings gemis.
Met Vrydag se hofverrigtinge is Fourie gelas om Maandag ’n foto van hul oudste kind hof toe te bring. Volgens Simpson kan die kind ’n sentrale faktor wees wat tot die beweerde misdade aanleiding gegee het.
LEES OOK: Oudpolisieman en vrou se kind dalk rede vir misdaad, sê staat
Simpson het Fourie in 2021 gevra om ’n DNS-toets te ondergaan om te bevestig of hul oudste kind sy biologiese seun is. Hy het destyds geweier, maar Vrydag aan die hof gesê dat hy nou geen beswaar teen ’n DNS-toets het nie.
Nkuna het Vrydag versoek dat Anna ontslaan word weens ’n gebrek aan bewyse. Die staat het die aansoek teengestaan en die hof het beslis dat Anna saam met haar man tereg moet staan.
OFM Nuus/Charné van der Merwe cvs/mvh