Central SA
Bothaville-polisie soek hulp om huisroofverdagtes op te spoor─── ZENANDE MPAME 12:38 Tue, 26 Aug 2025

Die polisie op Bothaville in die Noorwes-Vrystaat ondersoek ’n saak van huisroof nadat ’n egpaar (72 en 73) tuis beroof is.
Die man is aan die herstel nadat hy beserings aan sy linkeroog opgedoen het as gevolg van die roof. Sy vrou is ongedeerd.
Na bewering het twee mans met balaklawas op die huis Saterdag (23/8) binnegedring. Hulle was blykbaar gewapen met ’n mes en ’n handwapen, sê Palesa Thabana, Vrystaatse polisiewoordvoerder.
Hulle het glo die man met ’n tou vasgebind en die vrou na die slaapkamer geneem, waar een van hulle haar gedwing het om vir hulle die sleutels van die kluis te gee. Die verdagtes het glo een geweer en een rewolver uit die kluis geneem.
Die man is blykbaar van die kombuis na die badkamer gesleep, waar sy polshorlosie ook geneem is. Die twee verdagtes het die huis omgekrap voordat hulle spore gemaak het. Polisiebeamptes het ’n balaklawa en ’n handskoenstukkie op die misdaadtoneel opgetel.
Die slagoffers kon hulleself loswikkel en hulp gaan soek. Niemand is nog in hegtenis geneem nie en die ondersoek duur voort, sê Thabana.
Die polisie vra enigiemand met inligting, wat die polisie in hul ondersoek kan help, moet ao. Julie Venter van Bothaville se speurdiens by 073 057 8930 nader of Stop Misdaad bel by 08600 10111.
Dis nie die eerste huisroof wat die Bothaville-gemeenskap skud nie. Die vorige een was in Julie toe ’n vrou (60) met ’n hamer oor die kop geslaan en in haar huis verkrag is.
Sy herstel nog nadat sy ’n operasie ondergaan het om bloeding op die brein te verlig weens ernstige kopbeserings. Netwerk24 het vroeër berig haar man het bevestig dat haar geheue steeds baie swak is en sy kan nie die aanval onthou nie.
‘’n Saak van sakeroof en poging tot moord word ondersoek’
“Die verdagte moes Vrydag 8 Augustus in die Bothaville se landdroshof verskyn het op aanklagte van poging tot moord en verkragting, maar hy het nie verskyn nie,” sê Mojalefa Senokoatsane, Vrystaatse NVG-woordvoerder.
Intussen vra Ladybrand se polisie inwoners se hulp om nege verdagtes op te spoor wat gesoek word in verband met ’n sakeroof en poging tot moord.
Hulle het na bewering in Oktober 2023 ’n fabriek binnegestorm en ’n man en ’n wag geskiet en beroof. “’n Saak van sakeroof en poging tot moord word ondersoek,” sê Martin Xuma, Vrystaatse polisiewoordvoerder.