Central SA
Tenderbedrog: Noord-Kaapse onderwys-hoë, sakeman vas─── CHARNÉ VAN DER MERWE 10:37 Wed, 27 Aug 2025

’n Hoofdirekteur by die Noord-Kaapse onderwysdepartement se kurrikulumbestuurseenheid en ’n voormalige maatskappydirekteur sal na verwagting weer op 17 September in die hof verskyn op verskeie aanklagte.
Gobonamang Doris Sibiya (59), ’n hoofdirekteur by die departement, en Tshegofatso Kenabatho Gopane (44), voormalige direkteur van Tshela Bophelo Wellness Solution, het Maandag (25/8) in Kimberley se landdroshof verskyn. Hulle staan tereg op aanklagte van korrupsie, bedrog en geldwassery, sê ao. Nomthandazo Mnisi, provinsiale Valke-woordvoerder.
Die beskuldigdes is borgtog van R10 000 elk toegestaan nadat hulle op die betrokke dag in Kimberley in hegtenis geneem is.
Volgens Mnisi het die departement in Mei 2020 ’n tender ter waarde van meer as R6,5 miljoen aan Tshela Bophelo Wellness Solution toegeken. “Die kontrak was vir COVID-19-oriëntasie en -opleiding, tesame met voortgesette ondersteuning vir 554 skole by die hoofkantoor en vyf distrikskantore in en om Kimberley.”
Ondersoeke het aan die lig gebring dat Sibiya die toekenning van die tender aan die maatskappy vergemaklik het deur die departement se voorsieningskettingbestuursbeleid te omseil. Voorts het die maatskappy nie voldoen aan die spesifieke vereistes wat in die tender uiteengesit is nie.
Die Valke se ondersoek het ook aan die lig gebring Sibiya het ’n onverklaarbare betaling van R10 000 van Gopane ontvang.
LEES OOK: Noord-Kapenaar dan gevonnis weens oordrag-bedrog
Nog ’n Noord-Kapenaar Donavon Keith Davids (60), wat skuldig bevind is aan bedrog, sal op 12 September gevonnis word.
Davids is Dinsdag (26/8) deur die handelsmisdaadhof in Kimberley skuldig bevind nadat hy hom as ’n prokureur voorgedoen het en huisoordragfooie in sy persoonlike bankrekening ontvang het, sê ao. Nomthandazo Mnisi, Valke-woordvoerder
Die klaer, wat in 2011 ’n huis wou koop, is na ’n maatskappy genaamd DD Legal verwys. Davids, saam met sy medebeskuldigde Desmond Appie, het hulle as prokureurs en oordragbesorgers voorgedoen om die transaksie te fasiliteer.
LEES OOK: Twee Vrystaatse huisagente skuldig aan bedrog
Volgens Mnisi het die koper R40 000 in Davids se bankrekening gedeponeer - maar die eiendomsoordrag het nooit plaasgevind nie. ’n Daaropvolgende ondersoek deur die Valke het aan die lig gebring dat die vermeende verkoper nie die wettige eienaar van die eiendom was nie.
Appie se saak sal na verwagting op Dinsdag 26 Augustus aangehoor word.