On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Vyf se appèl misluk in Els-moordsaak

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 08:20 Mon, 01 Sep 2025

Vyf se appèl misluk in Els-moordsaak | News Article
Rikkie Alsemgeest en Piet Els. Foto verskaf

Die appèl van die vyf verdagtes wat skuldig bevind is aan die moord op ’n sakeman van die Noord-Kaap, het misluk.

Motlalentwa Qhautse, van Lesotho; Lizbeth Ndlala en haar man, Themba Lawrence Maja, albei van Pienaar in Mpumalanga; Samson Sam Mbokane van Mbombela in Mpumalanga; en Jabulani Zuma van Mtubatuba, KwaZulu-Natal, se aansoek is Vrydag (30/8) deur regter Lawrence Lever van die hand gewys, sê Mojalefa Senokoatsane, Noord-Kaapse NVG-woordvoerder. “Regter Lever het die appèl van die hand gewys en gesê dat geen ander hof redelikerwys tot ’n ander gevolgtrekking sou kom nie.”

Hulle is skuldig bevind aan die gewelddadige aanval op die prominente diamantsakeman Piet Els (86) en sy meisie.

Die vyf is skuldig bevind en gevonnis saam met Morapedi Rankali en oupa Jeffrey Mahomane. Rankali en Mahomane het egter nie aansoek gedoen om verlof tot appèl nie.

Met strykyster gebrand

Els, ’n bekende figuur in diamantkringe, en sy metgesel, Rikkie Alsemgeest (toe 68), is op 24 Januarie 2018 deur vier mans in sy slaapkamer op sy plaas buite die Diamantstad gemartel en aangerand. Kontant, muntstukke, vuurwapens en ander waardevolle items is gesteel. Els is 111 dae later oorlede aan kopbeserings, wat hy tydens die aanval opgedoen het. Albei slagoffers is met ’n strykyster gebrand.

Qhautse is skuldig bevind aan huisbraak met die opset om te roof en roof met verswarende omstandighede, seksuele aanranding en moord. Hy is tot 20 jaar gevangenisstraf gevonnis vir huisbraak en roof, vyf jaar vir seksuele aanranding en ’n lewenslange vonnis vir moord. Die hof het gelas dat die vonnisse gelyktydig uitgedien word.

Ndlala, Maja, Mbokane en Zuma is skuldig bevind aan huisbraak met die opset om te roof en roof met verswarende omstandighede.

Vier mans na Els se plaas gegaan

Maja het slegs aansoek gedoen om verlof om teen sy vonnis te appelleer, terwyl die ander vier teen hul skuldigbevinding en vonnisse appèl wou aangeteken het.

OFM Nuus het voorheen berig dat Zuma, wat na bewering een van voormalige president Jacob Zuma se seuns is, in Januarie 2018 van sy huis in KwaZulu-Natal na Mbombela gery het. Daar het hy vier medebeskuldigdes opgelaai en na Kimberley gereis waar hulle die huis van Amos Ralihlare, ’n tradisionele geneser, besoek het.

Drie Sothosprekende mense het op daardie stadium by die groep aangesluit. Die Mpumalanga-groep was na bewering besig om ’n ritueel uit te voer.

Vier mans het toe na Els se plaas gegaan waar hulle die paartjie aangerand en horlosies, Krugerrande en diamante gesteel het. Die verdagtes het in Els se wit Mercedes-Benz gevlug, wat later verlate op die R31 naby Phuthanang, buite Kimberley, gevind is.

OFM Nuus/Charne van der Merwe

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.