Central SA
Bloemfonteiner enigste Vrystater in nasionale rolstoelrugbyspan─── SUSAN MARÉ 14:06 Mon, 01 Sep 2025

’n Ernstige duikongeluk in 2007 by Kenton on Sea kom ’n briljante gimnas van Bloemfontein nie onderkry nie.
Vandag is hy die enigste Vrystaatse lid van die nasionale span van SA Wheelchair Rugby wat van 7 tot 9 Oktober in die Europese Kampioenskap se afdeling C in Skien, Noorweë, gaan meeding. Die afgelope 18 jaar was daar ’n groot berg van rehabilitasie wat Jared McIntyre vasbeslote in sy rolstoel uitgery het om weer as atleet uit te blink.
Jared is ’n Old Saint van St. Andrew’s School in Bloemfontein en eienaar van die 14 jaar oue Mustang-rolstoelrugbyklub op die Kovsie-kampus. Sy vrou, Mariné, ’n arbeidsterapeut, is sy regterhand, wat ook die afrigter van die Mustangs is en tot verlede jaar SA Rolstoelrugby (SARR) se hoofskeidsregter was.
Die Mustang Rolstoelrugbyklub in Bloemfontein is kookwater. Foto verskaf
As ’n C7-kwadrupleeg is al vier Jared se ledemate geaffekteer weens ’n rugmurgbesering. As kwadrupleeg het hy geen beweging in sy onderste ledemate (bene) nie en het beperkte handfunksie en spierkrag in sy voorarms. Hy is permanent in ’n rolstoel, wat hy self kan aandryf.
Ten spyte hiervan het hy ’n aangepaste motor, wat hy self bestuur om al sy selfsorg- en werktake as produkbestuurder van ’n Bloemfonteinse sakeonderneming onafhanklik te verrig.
Om as speler vir rolstoelrugby te kwalifiseer, moet iemand met gestremdheid minstens drie ledemate hê en die gestremdheid moet permanent wees. Rolstoelrugby is dus nie vir parapleë nie, maar vir kwadrupleë.
‘Murderball’
Dit staan ook as Quad Rugby bekend. In hierdie soort rugby is “duik” die soms brutale botsing van rolstoele teen mekaar wat Jared as soortgelyk aan stampkarretjies beskryf.
Dit lei soms daartoe dat ’n stoel omval. Die spelreëls vereis dat alle spelers se voete en heupe vasgegordel moet wees. Spelers mag nie met hul hande of liggaam aan mekaar raak nie. Gelukkig is niemand al ooit ernstig beseer nie.
Jarad McIntyre in aksie tydens ‘n wedstryd. Foto verskaf
Handskoene beskerm spelers se hande of in die geval van amputasie, hul stompies. Die spelers plak ook ’n ekstra laag rubber aan hul palms vir ’n beter houvas aan die ronde bal (nie ovaal soos in gewone rugby nie) en spesiale gom word uit Nieu-Seeland of Amerika ingevoer wat aan die hande gesmeer word om beter aan die wille of bal te plak vir maklike hantering.
‘Duike’ en ‘drieë’ in rolstoelrugby
Skeidsregter en afrigter Mariné sê die bal met elke agt sekondes gebons word. ’n Span het ook net 40 sekondes se besit om ’n doel aan te teken.
Die span teken ’n punt aan as ’n speler met die bal in sy besit op sy of haar skoot of in die hand tussen twee kegels oor die doellyn ry. Dit word ’n “drie” genoem, maar tel net een punt. Die bal hoef nie agter die doellyn gedruk te word nie.
Jarad McIntyre in aksie tydens ‘n wedstryd. Foto verskaf
“Duik” is baie soortgelyk aan stampkarretjies. Die spelers “duik” mekaar deur tee mekaar te bots in ’n volle stoel-tot-stoel-kontak.
Uitdagings rondom fiksheid
Mariné sê fiksheid sowel as spierkrag is ’n belangrike deel van die sport. Die verg van die atleet die vermoë om langafstand-uithouvermoë en spoed oor korter afstande te oefen.
Daar is basiese vaardighede soos hoe om die stoel te beheer, ’n bal te gooi en te vang en om aan te val en te verdedig. Dit is boustene wat ook vir ander spelers.
Die span is ’n gemengde sport vir mans sowel as vroue. Klubs van Suid-Afrika neem deel aan die nasionale liga van Maart tot Oktober en die nasionale kampioenskap in November.
Jarad McIntyre in aksie tydens ‘n wedstryd. Foto verskaf
Hoewel die sport ’n amptelike item op die Paralimpiese Spele is, is dit ’n droom dat Suid-Afrika in die toekoms ook op die Spele verteenwoordig kan word.
“Om gestremd te wees is nie die begin van die einde nie, maar die begin van iets nuut. Elke dag in jou lewe is ’n keuse.
“Jy kan in jou hoekie bly sit en jammer voel vir jouself, of jy kan vorentoe beur om die lewe voluit te leef.”
Lewenslyn vir al sy atlete
Volgens Bennie Erasmus, voorsitter van SARR, deel van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) bied rolstoelrugby aan sy spelers ’n lewensanker.
“Rolstoelrugby het baie uitdagings en streef daarna om ook op die hoogste vlak in die sport te kan presteer. Die SAWCR doen alles moontlik om die sport te ondersteun en te laat groei.
Jared en Mariné McIntyre. Foto verskaf
Dit bied aan spelers uitlewing in ’n sportsoort, spanwerk, die gees van kompetisie, veerkragtigheid en bewys dat gestremdheid nie onvermoë definieer nie.”
Borgskappe is ’n noodkreet
Hoewel Suid-Afrika se rolstoelrugbyspelers van nog nie gekwalifiseer het vir die Paralimpiese Spele in Brasilië in 2026 nie, word daar agter die skerms hard gewerk om die sport om te hef, juis omdat dit soveel atlete op te lig na hoër hoogtes en nuwe lewensmotivering.
Erasmus nooi enigiemand uit, individueel of as sakefirma met ’n hart vir ’n gestremde sportsoort soos rolstoelrugby om hierdie sport te help bevorder. Sy kantoor is by Vodacom Loftus in Pretoria en hy kan by chairman@sawcr.co.za ge-e-pos word.
“Dit is waarlik ’n inspirerende reis waar ’n gesamentlike poging ons uitstekend atlete kan help dat hulle op internasionale vlak meeding. So kan ons aan atlete individuele ondersteuning gee, hoop, veerkragtigheid en Suid-Afrika trots maak.”