On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Noordwester weer in hof ná dood van twee vriende

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 11:53 Tue, 30 Sep 2025

Noordwester weer in hof ná dood van twee vriende | News Article
Kobus Huyser en Niel Grobler. Foto: Facebook

’n Man van Noordwes verskyn weer Woensdag (1/10) in die hof waar hy teregstaan omdat hy die dood van twee vriende sou veroorsaak het. Moontlike antwoorde word van die DOV verwag nadat vertoë gelewer is.

Gideon Borstlap (38) het op 18 Augustus in die streekhof in Potchefstroom verskyn op twee aanklagte van strafbare manslag. Hy is weer op ’n waarskuwing vrygelaat, sê Sivenathi Gunya, NVG-woordvoerder.

Dit is die sewende uitstel in dié saak sedert die dood van Kobus Huyser (28) en Niel Grobler (19) ses jaar gelede. Die twee vriende het op 15 Augustus 2019 omstreeks 19:00 saam gery toe Borstlap se voertuig na bewering met hulle s’n gebots het op die kruising van Govan Mbeki-rylaan en Smitstraat, naby die gholfbaan. Albei is op slag dood.

Borstlap se verdedigingspan het in ’n hofverskyning op 29 Mei bykomende inligting oor die saak versoek. Hy is aanvanklik kort ná die ongeluk in hegtenis geneem en op borgtog vrygelaat. Die saak is egter in 2020 teruggetrek vir verdere ondersoek.

Kobus Huyser en Niel Grobler is byna ses jaar gelede oorlede. Foto: Facebook

In 2022 het Grobler en Huyser se naasbestaandes AfriForum genader en hul frustrasie oor die vertragings en gebrek aan vordering uitgespreek. Andrew Leask, hoofondersoeker van AfriForum se private vervolgingseenheid, het bevestig hulle het die NVG betrek. “Ná besprekings is ooreengekom dat verdere ondersoek nodig was.

“Ons het aangebied om ’n kenner te verskaf om die ongelukstoneel te rekonstrueer. Die polisie het later hul eie kenners aangestel, wat ’n omvattende rekonstruksie voltooi het.

Ooggetuie kom na vore

“Die voltooide toneelrekonstruksieverslag is aan die DOV oorhandig,” het Leask gesê en bygevoeg dit het gelei tot die besluit om voort te gaan met Borstlap se vervolging.

Gunya het voorheen gesê ná Borstlap se aanvanklike inhegtenisneming en die indiening van die dossier in die hof, het die aanklaers hul kommer uitgespreek oor die aanwesigheid van ’n onafhanklike ooggetuie om die saak te ondersteun.

“Die saak is van die rol geskrap, en die polisie het toe ’n beroep deur die plaaslike media gedoen op ooggetuies om na vore te kom. ’n Nuwe ooggetuie het ingestem om ’n verklaring af te lê, waarna die dossier teruggestuur is na die DOV, wat besluit het om die saak weer op die hofrol te plaas.”

OFM Nuus/Charne van der Merwe cvs

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.