On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Aanranding in Welkom-sorgoord: Ses beskuldigdes gou weer in hof

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 10:00 Fri, 07 Nov 2025

Aanranding in Welkom-sorgoord: Ses beskuldigdes gou weer in hof | News Article
Anna Fourie en Lynette Brummer in die hof. Foto: Charne van der Merwe

Ses mense, wat daarvan beskuldig word dat hulle ’n 81-jarige in ’n Welkomse versorgingsoord aangerand het, kom na verwagting Vrydag (7/11) weer voor.

Die verhoor in die landdroshof sal dan toegespits wees op die ontleding van ’n belangrike bewysstuk: ’n video, wat na bewering die aanranding vasgevang het. Die sestal staan tereg op ernstige aanklagte ná die beweerde mishandeling van Bettie Payne (81) vroeër vanjaar in die Silver Village-versorgingsoord in Dagbreek.

Lynette Brummer (64), Anna Fourie (73), Mapaseka Majorobella (35), Nomsa Ngcongwane (55), Ntswaki Mofolo (30) en Puseletso Moloi (33) is voorheen op borgtog vrygelaat onder streng voorwaardes en het laas op 18 September voorgekom, toe die saak uitgestel is. Die slagoffer se dogter, Mariana Payne, sal ook weer die verrigtinge bywoon. 

Bettie Payne en haar dogter Mariana. Foto verskaf

Sy was by elke vorige verskyning teenwoordig en sal weer in die voorste ry sit. Sy hoop dat geregtigheid sal geskied.

Daniel Botha en Eben Lee het op 1 September die sorgoord se bestuur oorgeneem. Dit heet nou DanLee Care. Geen van die beskuldigdes werk meer daar nie: Fourie het bedank, terwyl die ander ná tugverhore ontslaan is.

Volgens Mariana maak die bestuursverandering ’n beduidende verskil in haar ma se welstand. “Sedert die nuwe bestuur oorgeneem het, het dinge drasties verander – op ’n goeie manier. Die mense daar sorg nou baie goed vir hulle.”

Die aftreeoord se nuwe naam en logo. Foto verskaf 

Fourie, Brummer, Majorobella en Ngcongwane is op 9 Julie in hegtenis geneem en het in die hof verskyn vir ’n formele borgtogaansoek. Mofolo en Moloi is op 14 Julie by die aftreeoord aangekeer ná verdere ondersoek.

Hulle staan tereg op aanklagte van poging tot moord, aanranding met die opset om ernstig te beseer, ontvoering en oortreding van Artikel 13 van die Wet op Ouer Persone. Al ses was versorgers by die tehuis, terwyl Brummer, wat ’n senior pos beklee het, ook ’n aandeelhouer was.

Brummer word as die hoofbeskuldigde beskou, sê ao. Anja Tait, ondersoekbeampte, weens haar prominente rol in die beeldmateriaal. Sy het nie borgtog vir die ander beskuldigdes teengestaan nie.

Sedert 1 September is Daniel Botha en Eben Lee aan die stuur van sake, en die oord is herdoop na Danlee Care. Foto verskaf

Brummer is borgtog van R5 000 toegestaan met streng voorwaardes, onder meer dat sy minstens 100 m van die instelling af moet bly en haar paspoort binne ses uur ná haar vrylating moet indien. Die ander vyf is elk op borgtog van R1 000 elk vrygelaat.

Tait het getuig Brummer, wat bewus was daarvan dat sy verfilm word, het haar na bewering vererg toe Payne geweier het om haar medikasie te neem. Brummer het na bewering die bejaarde gevloek, pille in haar mond gedwing, in haar gesig geblaas, haar neus geknyp en op haar gespoeg.

Toe Payne skree, het Brummer na bewering met kleefband teruggekeer en dit om haar mond en kop gedraai.

Tydens die hofverrigtinge het Tait gesê die video is opgeneem met ’n sigbare kamera, wat in die kamer geïnstalleer was. “Personeellede was daarvan bewus, en die beeldmateriaal is sedertdien aan polisie-ondersoekers oorhandig.”

Die verdediging het die staat daarvan beskuldig hulle vertraag die verrigtinge, en meen genoeg tyd het verloop om bewyse in te samel en voor te berei vir die borgtogaansoek. 

Hulle het ook die wettigheid van die inhegtenisnemings bevraagteken en die geloofwaardigheid van Tait se beëdigde verklaring, wat sterk op die videomateriaal staatmaak.

Puseletso Moloi, Ntswaki Mofolo, Nomsa Ngcongwane en Mapaseka Majorobella in die hof. Foto: Charne van der Merwe

Benewens Brummer se beweerde optrede het Fourie na bewering die kamer met ’n foon binnegegaan terwyl Payne om hulp geskree het, en twee ander personeellede wat teenwoordig was, het na bewering niks gedoen nie.

Brummer het toe na bewering Payne met ’n kombers toegemaak, vir haar gesê niemand sou haar hoor nie, die ligte afgeskakel en die kamer saam met die ander verlaat.

Tait het later die instelling weer besoek om werkrekords vir alle personeel in te samel, maar dokumentasie met betrekking tot Brummer was na bewering vermis.

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

OFM Nuus/Charne van der Merwe

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.