Central SA
Heilbron-plaasaanval wys dringende behoefte aan beter samewerking─── CHARNÉ VAN DER MERWE 10:56 Wed, 05 Nov 2025
Die DA en die VF Plus loof albei die samewerking tussen boere en die polisie wat gelei het tot die inhegtenisneming van verdagtes in ’n Vrystaatse plaasmoord.
Elf beskuldigdes (tussen 20 en 38) het Maandag (3/11) in Heilbron se landdroshof voorgekom op talle aanklagte ná die moord op ’n plaaswerker en die verkragting van sy vrou (34) Saterdagoggend. Sy is ook met ’n mes gesteek.
Luidens aanvanklike berigte is 13 mense in hegtenis geneem, maar 11 het vlugtig voorgekom op aanklagte van onder meer moord, poging tot moord, roof, veediefstal en die besit van gesteelde vee. Die saak is met ’n week uitgestel, waarna die beskuldigdes moontlik om borgtog sal aansoek doen, sê kapt. Loraine Earle, provinsiale polisiewoordvoerder.
Dr. Roy Jankielsohn, provinsiale DA-leier en woordvoerder oor gemeenskapsveiligheid, sê hulle verwelkom die spanwerk tussen die boeregemeenskap en die polisie wat gelei het tot die inhegtenisnemings. “Misdaadvoorkoming en die opsporing van oortreders deur samewerking van plaaslike gemeenskappe en die polisie is noodsaaklik in die stryd teen misdaad.”
Die DA betuig sy meegevoel met die slagoffer se vrou en hul naasbestaandes. Die party is diep besorg oor geweld en misdaad op die Vrystaatse platteland.
Net soos dr. Jane Buys, sekerheidsrisikopraktisyn by Vrystaat Landbou, is die DA bekommer oor die buitengewoon groot getal verdagtes in dié aanval, sê Jankielsohn. Sommige is Lesotho-burgers, wat “die gereelde deelname van sommige van hierdie burgers aan oorgrensmisdaad onderstreep”.
Private wetsontwerp
Proaktiewe stappe moet gedoen word om te verseker dat alle belanghebbendes op ’n geïntegreerde wyse saamwerk om misdaad te bekamp, meen hy. DA-wetgewerlede het ’n private wetsontwerp op ter tafel gelê om die stryd teen misdaad in die provinsie op te skerp.
Die wetsontwerp stel voor:
- beter en formele samewerking tussen plaaslike gemeenskappe en die polisie;
- die formele akkreditasie van gemeenskapsorganisasies betrokke by misdaadvoorkoming;
- die vestiging van ’n geïntegreerde inligtingstelsel in die Vrystaat wat nie uitsluitlik op misdaadstatistieke staatmaak nie;
- beter toesig deur die provinsiale regering oor die polisie; en
- die skep van ’n Vrystaatse ombudsman om swak dienslewering deur die polisie te ondersoek.
Sy party sal vra dat alle politieke partye en gemeenskappe hierdie wetsontwerp tydens openbare verhore ondersteun, sê Jankielsohn. “Hoewel alle gemeenskappe misdaad ervaar, produseerboere en plaaswerkers voedsel vir die land. Hulle is dikwels die slagoffers van uiterste geweld en verdien sterker beskerming en ondersteuning.”

Roy Jankielsohn. Foto: OFM
Die VF Plus prys ook die samewerking tussen die boeregemeenskap en die polisie. Vrystaat Landbou en die polisie sonder talle dorpe en distrikte in die provinsie uit as brandpunte vir veediefstal en plaasmisdaad, sê Jan van Niekerk, provinsiale VF Plus-leier.
“Hierdie misdade het ’n verwoestende uitwerking op boere, plaaswerkers en hul gesin, wat voedselsekerheid en werksgeleenthede bedreig. Veediefstal lei nie net tot finansiële verliese nie, maar dikwels tot ’n eskalasie van geweldsmisdade.”
Wanneer georganiseerde veediefstal ongestraf bly, lei dit dikwels tot bloedige aanvalle op weerlose mense op plase, voeg Van Niekerk by.
Sigbare polisiëring
Sommige van die verdagtes was moontlik by vorige misdade betrokke, sê Van Niekerk. As dit bevestig word, sal die VF Plus daarop aandring dat hulle streng vervolg word.
Die party vra die polisie moet sigbare polisiëring in hoërisikogebiede dringend opskerp en gereeld padblokkades en nagpatrollies hou.
“Tot dan doen die party ’n beroep op inwoners om hul eiendom binne die raamwerk van die wet te beskerm en proaktief betrokke te bly by landelikeveiligheid-forums,” sê Van Niekerk.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuuslyn: 066 487 1427.


