On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Noordwes-seuntjie se stryd teen kanker eindig in hoop

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 13:43 Wed, 03 Dec 2025

Noordwes-seuntjie se stryd teen kanker eindig in hoop | News Article
Liam Jacobs se kanker is remissie. Foto verskaf

“Mamma, Liewe Jesus het gesê Hy gaan my gesond maak.”

Dit was die woorde van ’n seuntjie ná meer as ’n jaar van vrees, onsekerheid en behandeling toe die resultate uiteindelik kom wat bevestig hy is nou kankervry.

Die lang nagte van bekommernis, tallose hospitaalbesoeke en die emosionele wipwa-rit het tot ’n einde gekom. En vir die Jacobs-gesin was dit ’n oomblik van verligting en oorweldigende dankbaarheid. ’n Hoofstuk van pyn is afgesluit.

Kanker is op 18 Julie verlede jaar gediagnoseer by Liam Jacobs, van Ottosdal in Noordwes, nadat ’n CT-skandering gewasse in sy brein en rugmurg getoon het. In die daaropvolgende maande moes hy operasies, agt plaatjie-oortappings, tien bloedoortappings en uitmergelende chemoterapie deurmaak. In dié moeilike tyd het hy maar 12 kg geweeg. Nou weeg hy darem al 19,6 kg.

Liam Jacobs in die intensiewesorg-eenheid. Foto: Suné Jacobs

Op 26 Julie verlede jaar het Liam ’n uitmergelende vier-en-’n-half uur lange operasie ondergaan waartydens twee van die ses gewasse in sy brein verwyder is – die primêre gewas en nog ’n grote in sy serebellum aan die basis van sy skedel.

Volgens Suné het dokters verwag Liam sou sy sig verloor en dit sou ongeveer ses maande duur voor hy weer sou kon loop. “Merkwaardig genoeg kon hy net vier dae ná die operasie weer sien. Twee maande later het hy geloop,” het sy gesê.

Op 14 Augustus verlede jaar het hy ’n ernstige terugslag beleef met intense stuiptrekkings toe hy aanvanklik geen reaksie getoon het nie. Dit was egter die keerpunt. Hy kon die volgende dag van die ventilator afgehaal word.

Dit was asof daar met dié gebeure ’n “herstelknoppie” gedruk is, sê Suné. “Van daardie oomblik af het hy net verbeter.” 

Tydens sy herstel moes Liam deur ’n buis in sy neus gevoed word, want hy het naar geword elke keer wat hy geëet het. Andersins het hy min newe-effekte ervaar.

Liam het amper 8 kg opgetel ná die kanker. Foto Suné Jacobs

Suné het in dié hersteltyd aan Liam vertel hy het “balle in sy kop” wat nie daar moet wees nie. Waarop Liam elke keer eenvoudig sou antwoord: “Liewe Jesus, U sal my gesond maak.”

Uiteindelik het Liam op 11 Augustus die klok in die Netcare Unitas-hospitaal gelui wat verkondig ’n pasiënt is kankervry. Dit was nadat vasgestel is dat hy so te sê skoon is. Ma Suné en pa WD beskryf dit as “niks minder as ’n wonderwerk” nie.

Hoewel hy skoon was, was die tydperk voor die volgende skandering steeds stresvol vir die gesin. Op 10 November het hy die toets ondergaan wat die verloop van hul lewe vir die volgende paar jaar sou bepaal. Het die kanker teruggekeer, of is hy werklik kankervry?

“Die aand voor sy skandering het ons ’n mengsel van vrees en hoop ervaar,” vertel Suné. “Jy probeer sterk wees, maar jou gedagtes jag jou. Ek het net gebid dat hierdie nag die laaste een met onsekerheid sou wees.”

Die Jacobs-gesin. Foto: Suné Jacobs

Die oggend van die toets was stil; swaar van die spanning. Elke oomblik het soos ’n uur gevoel terwyl die familie probeer het om ter wille van Liam normaal op te tree.

“Om vir die uitslae te wag was die moeilikste deel – elke oomblik het soos ’n ewigheid gevoel.”

Suné erken sy het vyf koppies koffie binne twee uur afgesluk. “Jou hart klop in jou keel. Elke keer wanneer iemand se voetstappe nader kom, hou jy jou asem op. Dit is die langste paar minute van ’n ouer se lewe.”

Toe die woorde uiteindelik kom – “kankervry” – het sy in trane uitgebars. “Skielik het dit gevoel asof ’n enorme las van sy skouers afgehaal is.”

Liam Jacobs in 2024. Foto: Suné Jacobs

Die jongste skanderings wys Liam se rugmurg is skoon, en die twee klein gewasse in sy brein is niks anders as littekenweefsels nie. Die kanker is nou in volle remissie, hoewel hy steeds daaglikse instandhoudingschemo kry en elke vier maande opvolgskanderings ondergaan om te verseker sy liggaam bly gesond.

Die pad na genesing was vol uitdagings. Liam se hare het uitgeval weens die chemoterapie, en hy moes weer leer loop ná tye van swakheid. “Die moeilikste deel was om jou kind in pyn te sien verkeer en niks te kon doen om dit beter te maak nie,” sê Suné.

Ten spyte van die ontberinge, het Liam se geloof en veerkragtigheid deurgebreek, asook die onwrikbare ondersteuning van familie, vriende en hul gemeenskap.

Gesin vier kankervegtertjie se vordering op pad na genesing | News Article

Die kanker in Liam Jacobs se rugmurg is weg. Foto: Suné Jacobs

“Hierdie ervaring het ons geleer dat ons sterker is as wat ons ooit gedink het,” glo Suné. “Liefde, geloof en ondersteuning dra jou deur enigiets. Elke dag is ’n geskenk, en ons sien nou die lewe met nuwe oë. Genesing is nie net fisiek nie – dit is emosioneel, geestelik en vol hoop.”

Haar boodskap aan ander ouers wat deur ’n soortgelyke reis in die gesig gestaar word, is om nooit moed op te gee nie. “Vat dit een dag op ’n slag. Vertrou die proses, glo en hou jou kind se hand styf vas. Daar is lig, selfs al voel die pad baie donker.”

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cvs

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.