Central SA
Kinderhuise wil Kersfees spesiaal maak vir inwonertjies─── SUSAN MARÉ 08:27 Tue, 09 Dec 2025
By kinderhuise in die Vrystaat word daar groot moeite gedoen om die Kersseisoen vir die jong inwoners spesiaal te maak.
Die Charlotte Theron-kinderhuis (CTK) in Bethlehem se prinsipaal en maatskaplike werker, Surette Labuschagne, sê dié instelling bestaan sedert 1903 en het tans 123 inwoners, van klein tot hoërskoolouderdom. Die CTK is onder die bestuur van Engo in die Vrystaat en is ook bekend as ’n Engo-kampus. Altesaam 30 versorgers sien om na die kinders in nege huise.
Surette sê dit was ’n bedrywige jaar en hulle beleef ongelooflike goedgesindheid van die gemeenskappe in en om Bethlehem asook kerke en organisasies wat betrokke is.
Van die projekte wat die CTK jaarliks aandurf is ’n gholfdag by die Bethlehem-gholfklub, ’n basaar en seevakansies in Pennington, KwaZulu-Natal. ’n Groep kinders het pas teruggekeer van ’n seevakansie.
“Ons ervaring van mense wat die CTK deurgaans ondersteun is positief en ons is baie dankbaar vir hierdie rugsteun. Dit is so dat kinderhuise ’n staatstoelaag kry, maar dit is natuurlik nie genoeg om te oorleef nie. Bykomende projekte om ons fondse aan te vul is noodsaaklik.”
Op 12 Desember word ’n Carols by Candlelight-aand onder die sterre op die CTK se terrein gehou. Die musiekkunstenaars is Bethlehemiete Johan Voigt en sy seun Jano.
Dit is ’n Kersviering en begin om 18:00 vir 19:00. Feesgangers bring hul eie piekniekmandjie saam asook ’n kombers en kers of lantern. Die “toegangsgeld” is skryfbehoeftes.
Kersgeskenke en etes
Nog ’n bederf wat vir “CT-kaners” wag is die Bethlehem-gholfklub se uitdeel van Kersgeskenke. Op 24 Desember bied die landboukoöperasie VKB ’n ete aan die kinders en op 26 Desember word hulle ook deur die Engen Garage op die Durbanpad met ’n ete bederf.
Jolandé Noeth, bestuurder van Reddersburg se Paul Kruger-huis (PKH), sê dié kinderhuis bestaan sedert 1961 en is onder die vlerk van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA). Daar is nog ’n Pres. Krugerhuis in Gauteng.
Die PKH het ’n besonderse terrein met ’n swembad en ’n as’t ware immergroen grasperk agter die studiesaal. Reddersburg is ’n droë dorp wat sukkel met water, maar die kinderhuis is geseënd met ’n plasie, Smalplasie, binne loopafstand (4 km) waar ’n sterk boorgat is met ’n pypleiding na die kinderhuis.
Op Smalplasie is ook vier perde vir die kinders. ’n Deel van die grond word verhuur aan ’n boer vir bykomende inkomste.
Die PKH is gehuisves in ’n groot gebou met vleuels vir die junior en senior kinders. Die kinders is van driejarige ouderdom tot matriek. Van die 65 kinders is uitgeplaas vir die Kersseisoen.
“Vir die PKH-kinders is dit pure platteland en plaas waar hulle bly. Die kinderhuis het ’n swembad van 25 meter, ’n mooi parkie, deel ’n netbal- en tennisbaan met die skool, en hier kan hulle hul uitleef in ’n plattelandse atmosfeer,” sê Jolandé.
Die kinders gaan vanjaar weer deel wees van ’n Kersfees wat huislik is
“Ons by die PKH is geseënd met die GKSA wat meelewend en betrokke is, van Bethlehem tot in die Strand. Die Strand se Gereformeerde kerk hou uitreike en gaan vir vyf dae na Reddersburg kom.
“Die kinders gaan vanjaar weer deel wees van ’n Kersfees wat huislik is waar almal saam tradisionele kos maak, braai, swem, ’n Kersboom opstel en so ’n ouerhuiservaring kan hê.
“Die Gereformeerde kerk van Olifantshoek/Kathu kom ná Kersfees en bly tot na Nuwejaar. Daar gaan baie energie by PKH wees. Ons is dankbaar vir al die meelewenheid en voel geseënd.”
Hoe om te help
Weldoeners en gemeenskappe in Sentraal-Suid-Afrika kan op verskillende maniere bydraes lewer. Geldelike donasies kan help dat die kinders goed versorg word en klere en sport- en skoolbenodighede is altyd nodig.
Kinders het dikwels ook professionele hulp nodig, wat bykomende uitgawes meebring. Dit sluit in sielkundige en psigiatriese ondersteuning, berading, arbeidsterapie, spraakterapie, fisioterapie en opvoedkundige evaluasies.
Kinderhuise soos die CTK en PKH kan op hul webwerf en Facebookblad gekontak word.
’n Bekende aanhaling van Moeder Teresa som op hoe kinderhuise, versorgers en weldoeners kinders kan help: “I alone cannot change the world, but I can cast a stone across the waters to create many ripples.”
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

