Central SA
Griekwastad-moordenaar glo weer voor paroolraad─── CHARNÉ VAN DER MERWE 08:34 Tue, 09 Dec 2025
Hy kan moontlik Woensdag (10/12) weer voor die paroolraad verskyn.
Die man (29) het die boer Deon Steenkamp (44), sy vrou Christelle (43) en hul dogter, Marthella (14), op hul plaas, Naauwhoek, op Goeie Vrydag 2012 vermoor. Hy het Marthella ook seksueel aangerand.
Singabakho Nxumalo, korrektiewe dienste-woordvoerder, wou egter nie Maandag (8/12) aan OFM Nuus bevestig of die paroolraad gaan sit in die Upington-gevangenis nie, en sê die oortreder moet nog deur die raad oorweeg word.
Ondersoeke om ’n nuwe profiel saam te stel, is reeds voltooi, sê hy. Die departement sal ’n verklaring uitreik sodra die paroolraad ’n besluit neem. “Op hierdie stadium is geen besluit geneem nie.”

Marthella Steenkamp. Foto: Facebook
Die oudleerling van Grey Kollege in Bloemfontein het ook op 14 Desember 2023 voor die paroolraad verskyn. “Hy is egter verwys vir verdere profielontwikkeling aangesien hy nog ander programme gehad het om te voltooi,” het Nxumalo vroeër gesê.
Gevangenes doen nie aansoek om parool nie, het hy verduidelik. Dit is ’n outomatiese proses wat begin sodra ’n gevangene die minimum vereiste tydperk (50%) van hul vonnis uitgedien het.
“Die moordenaar het die minimum voorgeskrewe tydperk van sy vonnis uitgedien; daarom het hy outomaties in aanmerking vir parool gekom. Hy is egter as ongeskik vir paroolplasing beskou, en verdere profielontwikkeling en bykomende programme moet voltooi word. Dit is wat in sy geval gebeur het.”
Identiteit
Ingevolge hierdie wysigings kan die identiteit van ’n minderjarige wat by ’n misdaad betrokke is, nie bekendgemaak word nie, selfs nadat hulle 18 word, tensy ’n formele hofaansoek ingedien word.
Regter Frans Kgomo van die hooggeregshof in Kimberley het die oortreder op 13 Augustus 2014, twee dae voor sy 18de verjaardag, tot 20 jaar tronkstraf gevonnis vir elk van die moorde.
Die beskuldigde het beweer dit was ’n plaasaanval. Hy dien sy vonnisse gelyktydig uit. Tydens die verhoor het die staat aangevoer die motief vir die moorde hou verband met die verkragting van Marthella.

Deon en Christel Steenkamp. Foto: Facebook
Die moordenaar dien sy vonnis in die Upington-gevangenis uit.
Volgens adv. Allen Simpson, regskundige, is die mees voor die hand liggende faktor in ’n paroolaansoeker se guns duidelik berou vir die oortreding.
Indien berou egter nie duidelik is nie, sal ander faktore ook in ag geneem word.
“Dit sluit in jou gedrag terwyl jy in die (gevangenis) is, of jy enige verdere voorvalle met die gereg tydens opsluiting gehad het, en of jy die multidissiplinêre programme wat in die fasiliteit beskikbaar is, suksesvol voltooi het.
“Daarbenewens sal die teenwoordigheid van ’n ondersteuningstelsel in plek indien jy op parool vrygelaat word, sowel as verslae van sielkundiges of maatskaplike werkers, ook in ag geneem word.”
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

