On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
Show Background
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

Central SA

Minister bevestig lugmagoffisier gou heraangestel ná ontslag weens haatspraak

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 08:32 Wed, 10 Dec 2025

Minister bevestig lugmagoffisier gou heraangestel ná ontslag weens haatspraak | News Article
Vincent Mohlala. Foto: Facebook

Die VF Plus wil weet waarom ’n majoor in die weermag wat weens growwe haatspraak ontslaan is, ’n jaar ná die voorval opnuut aangestel is.

Vincent Mohlala is weer spoedig in die weermag aangestel nadat hy in 2018 ontslaan is. Dit blyk uit die antwoord van Angie Motshekga, minister van verdediging en militêre veterane, op ’n parlementêre vraag, sê Wouter Wessels, VF Plus-woordvoerder oor verdediging en militêre veterane.

Mohlala, wat op die Wonderboom-basis in Pretoria gestasioneer was, het ’n rassistiese opmerking gemaak kort ná ’n aanval op wit bejaardes.

Johan van Wyk, seun van ds. Braam van Wyk (toe 80), het op 10 Maart 2018 ’n foto van sy pa se erg beseerde gesig op Facebook geplaas ná die aanval vroeër daardie dag in Randparkrif, Randburg.

‘Goedkeuring vir aanranding’

“Watter lafaards skop ’n 80-jarige man in die gesig terwyl sy hande agter sy rug vasgebind is? Hulle het ook sy vriend, afgetrede prof. Cobus Naudé (toe 76), wat ’n wonderlike man was, vermoor deur hom met ’n mes in die hart te steek,” het Van Wyk geskryf.

Mohlala het in reaksie op die inskrywing sy goedkeuring van die boosdoeners se optrede uitegspreek. “Die aanvallers moes sy oë en tong uitgesteek het sodat die laaste gesigte wat hy ooit sou sien, dié van die moordenaars sou wees en hy met dié nagmerrie na sy graf kon gaan.”

Op Mohlala se Facebook-profielfoto destyds is hy in sy weermaguniform met ’n naamplaat op sy bors. Nadat Mohlala in ’n militêre ondersoek aan haatspraak skuldig bevind is, is hy op 18 Mei 2018 uit die weermag ontslaan.

Jaar later heraangestel

“Motshekga het bevestig Mohlala is op 14 Mei 2019 heraangestel, skaars ’n jaar ná sy ontslag, maar het geen rede vir sy heraanstelling verstrek nie,” sê Wessels.

Daar is boonop eers teen Mohlala opgetree nadat die VF Plus tydens die weermag se begrotingsdebat in die parlement sy misnoeë oor die gebeure uitgespreek het.

Genl Solly Shoke, destydse weermaghoof, het ’n brief aan Mohlala gerig en verwys na sy uitlating op sosiale media wat “ernstige rasse-aantygings bevat” en “vyandigheid en afkeer op grond van ras” toon.

‘Hierdie gedrag is ’n ernstige skending van militêre dissipline en die gedragskode vir lede van die weermag’

“Hierdie gedrag is ’n ernstige skending van militêre dissipline en die gedragskode vir lede van die weermag. Dit is verder strydig met die gedrag wat van ’n senior offisier van die weermag verwag word.

“U woorde het die weermag in oneer gebring en daarom word u dienste met onmiddellike effek beëindig.”

Volgens Wessels wil die VF Plus van die minister weet of hierdie siening en uitsprake van Shoke dan nie meer geld nie. Die party sal aandring op antwoorde oor die redes vir die heraanstelling.

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

OFM Nuus/Charne van der Merwe  cvs

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.