Central SA
Verkeerdevlei: Boere wat glo beweerde veediefstal keer, terug in hof─── CHARNÉ VAN DER MERWE 10:12 Wed, 10 Dec 2025
Die drie Vrystaatse boere, wat na bewering probeer het om ’n veediefstal te voorkom en toe aangekla is van verskeie misdrywe, moet op 10 Desember weer voorkom in die landdroshof op Brandfort.
Die drie boere, Hendrik Steyn en die Smith-susters, Janné en Lize-Mari, staan tereg op aanklagte van poging tot moord, ontvoering, roof, crimen injuria, aanranding, aanranding met die opset om ernstig te beseer en regsverydeling. Die saak hervat met ’n deelverhoor waarin sommige van die staat se getuies steeds deur twee verskillende regsverteenwoordigers ondervra word.
Adv. Allen Simpson tree op vir Steyn en die prokureur Greg Scott Nel vir die Smith-susters.

Die Smith-susters buite die hof. Foto: Charne van der Merwe
Die susters het op 30 Julie 2023 ’n verdagte Toyota Hilux op die R703-teerpad tussen Verkeerdevlei en Excelsior opgemerk. Hulle het die bakkie vasgekeer omdat hulle vermoed het die insittendes was veediewe.
Steyn het na bewering opgedaag om te help. Hulle het die voertuig herken as dié van Andries Borman, ’n buurman, en hom gekontak om te vra of hy bewus was dat die betrokkene sy bakkie bestuur.
Bornman het tydens die hofverrigtinge op 27 Junie getuig die pa, een van sy werknemers, het wel toestemming gehad om die voertuig te gebruik, maar nie op daardie spesifieke tydstip nie. Hy het na bewering die susters gevra om die pa en sy seuns daar te hou.
LEES OOK: Drie Vrystaatse boere se saak hervat Vrydag
Volgens die klaers is hulle toe aangerand. Hulle beweer hulle is aangesê om uit die bakkie te klim en die kinders is opdrag gegee om te kniel.
Volgens Bornman het Steyn die twee seuns wat in die bakkie was, aangerand. Die twee seuns is deur die manlike bekuldigde aangerand en Steyn het een van die kinders geskop, het hy getuig.
“Ek het herhaaldelik vir Hendrik gesê: ‘Dit is nie grootmense nie, dit is kinders. Jy kan nie dit doen nie.’”

Betogers tydens een van die vorige hofverskynings buite die hof. Foto: Facebook
’n Woordewisseling het glo tussen Janné en die pa ontstaan, waarna hy haar na bewering gestoot het en toe weggehardloop het. Sy het hom ongeveer 40 m ver gevolg.
Sy beweer hy het in ’n veld ingehardloop en sy kon hom, omdat dit donker was, nie presies sien nie. Sy het na bewering twee waarskuwingskote in die grond afgevuur voordat sy teruggekeer het na haar suster wat alleen by die kinders agtergebly het.
Die jongste seun (16), wat voorheen (25 Junie) onder die druk van kruisondervraging geknak en begin huil het, se kruisondervraging is nog nie afgehandel nie.
Bewerings van aanranding
Die hof moes twee keer verdaag nadat hy uitgevra is oor waarom hy drie maande ná sy oorspronklike verklaring ’n nuwe een afgelê het.
In sy tweede verklaring beweer die seun Steyn het hulle aangerand en rassistiese opmerkings gemaak. Steyn het na bewering ook die seuns gedwing om op hul maeag te lê en hulle hande met kabelbinders vasgebind.
Simpson het aangevoer daar is geen bewyse wat Steyn met die aanranding verbind nie. Die Smith-susters en Steyn is kort ná die voorval op hul plase in hegtenis geneem deur 30 swaar gewapende polisie- en Valkebeamptes.
Teenstrydighede
Die hofverrigtinge is voorheen uitgestel nadat Simpson, namens Steyn, tydens kruisondervraging sers. Ntombi Lydia Matlho versoek het om haar dagboek voor te lê. Dit was weens teenstrydighede tussen haar skriftelike verklaring en haar getuienis in die hof.
Simpson wou verifieer wat Matlho op die dag van die voorval in haar dagboek aangeteken het. Matlho het egter getuig haar dagboek is soek.
Bornman se kruisondervraging deur Nel duur voort. Hy moet ook nog deur Simpson ondervra word.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

