Central SA
Bloemfonteinse regiment-sersant-majoor: eerste verdagte voor hof─── CHARNÉ VAN DER MERWE 11:35 Thu, 11 Dec 2025
Die man wat beskuldig word van die moord op ’n gewese RSM van 3 Valskermbataljon in Tempe, Bloemfontein, kom na verwagting weer op 28 Januarie voor in die plaaslike landdroshof.
Moeketsi John Mosioua (39) het Woensdag (11/12) vlugtig voorgekom vir die moord op RSM Albertus (Champ) Opperman, sê sers. Mahlomola Kareli, provinsiale polisiewoordvoerder. Die 75-jarige se huiswerker het op 12 September in sy huis in Siembambastraat op sy liggaam afgekom met ’n noodlottige steekwond in die bors.
“Die huiswerker het na bewering ook twee onbekende mans in die huis aangetref. Sy het na die bure gehardloop om hulp te ontbied, wat toe die polisie en ’n sekerheidsmaatskappy gebel het,” sê Kareli.
“Opperman is op die toneel dood verklaar.”

Mike Bolhuis. Foto: TheMikeBolhuis/X
Die privaat ondersoeker Mike Bolhuis, wat nou saam met die ondersoekspan werk, sê die ondersoek is steeds aan die gang. “Die eerste verdagte wat in hegtenis geneem is, word deeglik ondersoek.
“Ons werk nou met die tegnologie. Ons gaan die digitale inligting ontleed om te bepaal watter kontakpersone hierdie verdagte – wat steeds in aanhouding is en nie borgtog gekry het nie – op sy selfoon en deur sy elektroniese kommunikasie gekontak het.
“Dit sal aan ons ’n prentjie gee met wie hy (van) ongeveer ses maande voor die moord tot die dag van die voorval in kontak was, en dit sal ons heel waarskynlik help om die tweede verdagte te identifiseer. Ons verwag om teen middel Januarie klaar te wees.”
Gerespekteerde figuur
Bolhuis vra enigeen met inligting moet hom by 082 447 6116 nader. Mosioua is ’n paar dae ná die voorval in hegtenis geneem, terwyl twee ander verdagtes gevlug het en nog nie aangekeer is nie.
Opperman was ’n gerespekteerde figuur in die militêre gemeenskap. Hy word deur Bolhuis beskryf as “’n absolute yster – ’n ware voorbeeld”.
Hy was een van Bloemfontein se bekendste oudsoldate, nadat hy duisende valskermsoldate oor etlike dekades heen opgelei het. In sy jeug was hy ook ’n kranige bokser en het hy twee keer die Suid-Afrikaanse ligswaargewigtitel gehou.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

