Central SA
Brandfort-boere: Sleutelgetuie het nooit verklaring afgelê─── CHARNÉ VAN DER MERWE 14:29 Thu, 11 Dec 2025
’n Sleutelgetuie in ’n Vrystaatse plaasaanrandingsaak het in die hof erken hy het nooit ’n verklaring afgelê oor die beweerde aanranding wat hy sou aanskou het nie – ’n erkenning wat opnuut vrae wek oor die geloofwaardigheid van die staatsgetuienis.
Die beskuldigdes, Hendrik Steyn en die Smith-susters, Janné en Lize-Mari, het Woensdag (10/12) in die Brandfort-landdroshof verskyn op die eerste van drie verhoordae. Die drie boere staan tereg op verskeie aanklagte, insluitend poging tot moord, ontvoering, roof, crimen injuria, aanranding en regsverydeling.
Die verhoor sou Donderdag (11/12) voortduur, waarna die staat sy saak sal sluit en die verdeding na verwagting sal aansoek doen om ontslag.

Die Smith-susters buite die hof. Foto: Charne van der Merwe
Die susters het op 30 Julie 2023 ’n verdagte Toyota Hilux op die R703 tussen Verkeerdevlei en Excelsior gesien en van die pad afgetrek omdat hulle die insittendes vir veediewe aangesien het. Steyn het na bewering opgedaag om te help.
Hulle het dit as hul buurman Andries Bornman se voertuig herken en hom gekontak om te vra of hy bewus was wie sy bakkie bestuur. Bornman het met die hofverrigtinge op 27 Junie getuig een van sy werknemers het wel toestemming gehad om die voertuig te gebruik, maar nie op daardie spesifieke tydstip nie.
Hy het na bewering die susters gevra om die man, wat die bakkie bestuur het, en sy seuns daar te hou. Volgens die klaers is hulle toe aangerand. Hulle beweer hulle is aangesê om uit die bakkie te klim en die kinders is opdrag gegee om op hul knieë te sak.
Teenstrydigheid in verklarings
Adv. Allen Simpson, vir Steyn, het die kruisondervraging van ’n 16-jarige seun voortgesit wat voorheen tydens ondervraging geknak het. Die hof moes Woensdag vir ’n paar minute verdaag nadat hy weer onder die druk van ondervraging begin huil het.
Die seun se getuienis het teenstrydighede in sy vorige verklarings aan die lig gebring. Hy het aanvanklik beweer twee skote is afgevuur; in ’n tweede verklaring het hy drie skote genoem.
Sy beskrywing van die aanranding het ook verander. Terwyl hy oorspronklik gesê het die slagoffers het die maag gelê, het hy in die hof getuig dat hulle gekniel het.
LEES OOK: Verkeerdevlei: Boere wat glo beweerde veediefstal keer, terug in hof
Simpson het beklemtoon beskuldigde nommer drie, Steyn, het niemand aangerand het nie, maar bloot foto’s van die situasie geneem vir ’n gemeenskaps-WhatsApp-groep, wat die seun se getuienis weerspreek het wat die teendeel voorgestel het.
Die tweede getuie wat geroep is om te getuig, Bornman, wat voorheen deur die ander prokureur, Greg Scott Nel, gekruisondervra is, is deur Simpson uitgevra oor teenstrydighede in sy getuienis.
Bornman het erken hy het nooit ’n verklaring afgelê dat hy enige aanranding aanskou het nie, ten spyte daarvan dat hy ’n sleutelgetuie in die saak is. Hy het beweer dat hy by die polisiekantoor meegedeel is sy verklaring is onnodig, aangesien hy “nie betrokke was nie”.

Betogers tydens een van die vorige hofverskynings buite die hof. Foto: Facebook
Hy het wel getuig hy het die aanranding aan ’n kolonel genoem. Bornman het ook getuig toe hy by die polisiekantoor aangekom het, was talle beamptes van die veediefstaleenheid teenwoordig.
Almal behalwe hy het hul verklarings laat afneem. Simpson het bevraagteken waarom Bornman nou oor die aanranding sou getuig, nadat hy dit nie vroeër op papier vasgelê het nie.
Teenstrydighede is ook uitewys rakende die tydlyn van die beweerde aanranding. Een van die beweerde slagoffers het getuig die aanranding is gestaak toe Bornman opgedaag het.
Ontken persoonlike wrok
Bornman het egter getuig Steyn het eers ná hom daar opgedaag, wat dit onmoontlik maak dat Steyn aangekla kan word van aanrandig op die twee kinders, het Simpson aan hom gestel.
Oor moontlike motiewe het Simpson opgemerk Bornman se vrou is voorheen skuldig bevind aan bedrog by ’n kerk waar Steyn op die kerkraad was.
Hoewel Bornman enige persoonlike wrok of motief met sy getuienis ontken het, het Simpson dit aan hom gestel dat hy bevooroordeeld kon wees. Hy kon die verhoor gebruik het as vergelding teen Steyn.
Vermiste polisiedagboeke
Bornman het opstandig in die hof geword en ontken daar is enige kwade gevoelens tussen hom en Steyn. Hy het ook ontken sy getuienis is deur vorige gebeure beïnvloed.
Simpson het herhaaldelik teenstrydighede tussen die getuies se verklarings en hul hofgetuienis uitgewys en verwys na vermiste polisiedagboeke en teenstrydige verslae oor wie op die toneel aangekom het en wanneer.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

