Central SA
Chubby Chick-skieter: Twee aanklagte van moord by klagstaat gevoeg─── CHARNÉ VAN DER MERWE 09:07 Tue, 16 Dec 2025
Die man wat na bewering die twee Fourie-broers van Noordwes geskiet het, sal Donderdag (18/12) in die hof verskyn. Hy word nou van twee moorde aangekla.
Die Fourie-gesin van Potchefstroom het twee familielede in net meer as ’n maand verloor. Johnathan Fourie (52) is op 10 November op die toneel dood, en sy broer, Deon Fourie (55), is Sondag (14/12) weens sy beserings dood.
Robert Joubert (73), die man wat van die moorde aangekla word, is steeds in die hospitaal nadat hy ook tydens die voorval gewond is.
“Joubert is steeds onder polisiebewaking in die hospitaal. Hy sal waarskynlik Donderdag in absentia in die Potchefstroomse landdroshof verskyn,” sê kol. Adéle Myburgh, provinsiale polisiewoordvoerder.

Deon Fourie. Foto verskaf
Hy het ook nie Donderdag (11/12) self in die hof verskyn nie. OFM Nuus het berig Deon is omstreeks 10:45 dood.
“Die ondersteuning, gebede en boodskappe van vertroosting vir die Fourie-gesin in die afgelope weke word waardeer. Ons betuig hiermee ons diepste meegevoel aan die familie ná die afsterwe van Deon so kort na Johnathan. Dit is ongelooflik hartseer,” het Basil Kletz, ’n familievriend, aan OFM Nuus gesê. “Die familie is absoluut verpletter.”

Johnathan Fourie en sy vrou, Nadine. Foto: Facebook
Die skietvoorval het plaasgevind op die perseel van Chubby Chick, ’n hoendermaatskappy in Potchefstroom.
Volgens ’n verklaring wat kort ná die voorval deur die maatskappy uitgereik is, het die broers – albei direkteure – na bewering met Joubert (73) vergader om ’n eiendomstransaksie te bespreek.
Joubert het na bewering die perseel verlaat, maar het ongeveer ’n halfuur later teruggekeer, die raadsaal binnegegaan en begin skiet.

Robert Joubert word steeds onder polisiebewaking in die Potchefstroomse staatshospitaal behandel. Foto: X
Johnathan is op die toneel dood, terwyl Deon verskeie skietwonde opgedoen het. Hy is in ’n kritieke toestand hospitaal toe gehaas.
Veiligheidswagte het kort daarna opgedaag en Joubert is ook in die daaropvolgende skietgeveg gewond.
Kletz het voorheen aan OFM Nuus gesê dat Deon beide goeie en moeilike dae in die intensiewe sorgeenheid beleef het.
Hy het verskeie mediese prosedures ondergaan, insluitend die verwydering van ’n dreineringspyp uit sy long, en is op dialise geplaas terwyl dokters sy toestand noukeurig dopgehou het.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427

