On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Griekwastad-moordenaar nog nie vry ná paroolbesluit

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 14:54 Thu, 18 Dec 2025

 Griekwastad-moordenaar nog nie vry ná paroolbesluit | News Article
Die minderjarige tydens die verhoor. Foto: The Witness

Die Griekwastad-moordenaar, wat langer as tien jaar agter tralies deurgebring het, is parool toegestaan.

Die minister van korrektiewe dienste het dit Donderdag (18/12) aan OFM Nuus bevestig. Dit beteken egter nie dat die 29-jarige voor Kersfees vrygelaat sal word nie.

“Ek kan bevestig dat die oortreder Woensdag voor die paroolraad verskyn het en sy parool goedgekeur is,” sê dr. Pieter Groenewald. “Ek het reeds die dossier aangevra.”

Hy gaan dit bestudeer en besluit of hy ’n hersiening sal aanvra. “Die finale besluit berus egter by die paroolhersieningsraad.”

Die 29-jarige het die boer Deon Steenkamp (44), sy vrou, Christelle (43), en hul dogter, Marthella (14), op Goeie Vrydag 2012 op die plaas Naauwhoek in die distrik Hay vermoor. Hy het Marthella verkrag.

Marthella Steenkamp. Foto: Facebook

Die voormalige leerling van  Grey Kollege in Bloemfontein het ook op 14 Desember 2023 voor die paroolraad verskyn. “Hy is egter verwys vir verdere profielontwikkeling aangesien hy nog ander programme moes voltooi,” het Singabakho Nxumalo, woordvoerder van korrektiewe dienste, vroeër gesê.

Gevangenes doen nie aansoek om parool nie, het hy verduidelik. Dit is ’n outomatiese proses, wat begin sodra ’n gevangene die helfte van sy vonnis uitgedien het.

“Die moordenaar het die minimum voorgeskrewe tydperk van sy vonnis uitgedien; daarom het hy outomaties vir parool in aanmerking gekom. Hy is egter aanvanklik as ongeskik beskou, en verdere profielontwikkeling en bykomende programme moes voltooi word.”

Die identiteit van minderjariges wat by ’n misdaad betrokke was, mag nie bekendgemaak word nie, selfs nadat hulle 18 word, tensy ’n formele hofaansoek ingedien word.

Deon en Christel Steenkamp. Foto: Facebook

Regter Frans Kgomo van die hooggeregshof in Kimberley het die oortreder op 13 Augustus 2014, twee dae voor sy 18de verjaardag, tot 20 jaar tronkstraf gevonnis vir elk van die moorde.

Die beskuldigde het beweer dit was ’n plaasaanval. Tydens die verhoor het die staat aangevoer die motief vir die moorde hou verband met die minderjarige meisie.

Nxumalo wou nie aan OFM Nuus bevestig of die man voor die paroolraad verskyn het nie. “Sodra enige inligting beskikbaar is, sal die DKD ’n verklaring uitreik.”

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

OFM Nuus/Charne van der Merwe

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.