Central SA
Beplande moord op man: Boervrou van Aliwal weer voor hof─── CHARNÉ VAN DER MERWE 13:18 Mon, 09 Feb 2026
Die boervrou van Aliwal-Noord wat daarvan beskuldig word dat sy haar vervreemde man wou laat vermoor het, verskyn na verwagting weer Donderdag (19/2) in die hof.
Anélle de Bruin staan tereg op aanklagte van sameswering om haar man, Johan (56), van die plaas Rietpoort te vermoor. Vandeesweek se verrigtinge in die streekhof sal na verwagting die vorm aanneem van ’n voorverhoorkonferensie.
Die beweerde aanval sou glo op 8 Januarie verlede jaar plaasgevind het en moes na ’n plaasaanval gelyk het.

Johan en Annelle de Bruin. Foto: Facebook
Die polisie het op ’n wenk gereageer en haar die volgende dag in hegtenis geneem. Sy is aanvanklik op borgtog van R2 000 vrygelaat nadat sy nege dae in aanhouding was.
De Bruin is die plaas belet en mag haar kinders slegs onder toesig sien.
Sy het op 24 November saam met ’n nuwe regspan in die hof verskyn, nadat sy die mandaat van haar vorige regsverteenwoordigers beëindig het. Sy word nou verteenwoordig deur adv. Allen Simpson.
Die NVG sê De Bruin gee na bewering in klankopnames opdragte aan vermeende huurmoordenaars, insluitend bevele om die gesin se honde dood te maak en om haar man se bakkiebande te sny. Die NVG beweer De Bruin het ’n tussenganger genader om die huurmoordenaars te reël en ’n voorskot betaal.
“Sy sou glo die oorblywende bedrag betaal nadat haar man vermoor is en versekeringspolisse uitbetaal,” het Luxolo Tyali, NVG-woordvoerder, vroeër gesê. Die saak is reeds meermale uitgestel weens uitstaande items, insluitend selfoonrekords, verklarings van sleutelgetuies, fotoalbums en bykomende bewyse.
Haar borgtog is sedertdien onder dieselfde voorwaardes verleng. Martins Prokureurs in Bloemfontein het Simpson opdrag gegee om De Bruin te verdedig.
* Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.


