On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Polisiebeamptes eindelik verhoor ná moord op vrou

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 11:15 Thu, 12 Feb 2026

Polisiebeamptes eindelik verhoor ná moord op vrou | News Article
Chesnay Patricia Keppler. Foto: Facebook

Langer as ’n jaar nadat ’n jong vrou na bewering deur twee Gautengse polisiebeamptes vermoor is, word hulle eindelik verhoor.

Die moordverhoor van Chesnay Patricia Keppler (22), ’n Gautengse teenmisdaadbeampte, sal van 14 tot 17 April in die hooggeregshof in Johannesburg plaasvind. Sy is in die oggendure van 26 Desember 2024 tuis in Eldorado Park suid van Johannesburg noodlottig gewond.

Sers. Mandlenkosi Gladman Buthelezi (43) staan tereg op aanklagte van moord, poging tot ontvoering, drie aanklagte van aanranding, kwaadwillige saakbeskadiging en regsverydeling, sê Magaboke Mohlatlole, NVG-woordvoerder.

Sy medebeskuldigde, konst. Llewellyn Meyers (36), staan tereg op aanklagte van regsverydeling, twee aanklagte van aanranding en drie van poging tot moord.

Chesnay Patricia Keppler. Foto: Facebook

Na bewering het Buthelezi ongenooid en besope opgedaag by die woonplek van Keppler, met wie hy in ’n verhouding was, en haar aangerand. Hy het glo ook probeer om haar in ’n voertuig te dwing, maar sy het geweier om saam met hom te gaan. Keppler en nog ’n vrou het in die huis ingevlug.

Keppler is meermale deur haar kombuisvenster geskiet en is kort daarna in die Chris Hani Baragwanath-hospitaal dood. Sy het gereeld saam met beamptes van die Eldorado Park-polisiekantoor gewerk en was op Kersdag van diens af.

Ná die voorval het Buthelezi van die toneel gevlug waar hy homself glo geskiet het. Hy is daarna in die hospitaal opgeneem en onder polisiebewaking geplaas voordat hy in hegtenis geneem is.

Buthelezi en Keppler was destyds in ’n verhouding. Volgens Dereleen James, ActionSA-LP, het Buthelezi haar voorheen mishandel en was hy glo by korrupte aktiwiteite betrokke.

Meyers is later in hegtenis geneem en as medebeskuldigde bygevoeg nadat die ondersoek na bewering aan die lig gebring het dat albei beskuldigdes op 25 Desember 2023, kort voor die moord, saam ’n partytjie in Eldorado Park bygewoon het.

Meyers is sedertdien borgtog toegestaan hangende die verhoor, terwyl Buthelezi in aanhouding bly, sê Mohlatlole.

‘Sy was een van ons’

Panyaza Lesufi, premier van Gauteng, het ná haar dood gesê die sinnelose moord op ’n teenmisdaadbeampte het die gemeenskap van Eldorado Park van ’n onselfsugtige en vreeslose dienaar van die mense beroof.

“Sy was een van ons, en haar lewe is geneem deur iemand wat die gemeenskap vir beskerming vertrou het. Ons sal verseker die oortreder word gestraf.”

* Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

OFM Nuus/Charne van der Merwe dg

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.