On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
Show Background
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

Central SA

Noord-Kapenaars dan weer in hof ná beweerde munisipaliteit-bedrog

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 08:00 Tue, 24 Feb 2026

Noord-Kapenaars dan weer in hof ná beweerde munisipaliteit-bedrog | News Article
Foto ter illustrasie: iStock

Twee mense van die Noord-Kaap sal na verwagting weer op 17 Maart in die hof verskyn nadat hulle glo verantwoordelik was vir ’n munisipaliteit se verlies van meer as R1 miljoen.

Annelie (52) en Jonathan Swartz (59) het Woensdag (18/2) voorgekom in die landdroshof op Kakamas. Hulle word aangekla van diefstal en geldwassery. 

Die mede-eienaars van Annie’s Building Supplies is op dieselfde dag as hul hofverskyning deur die Valke se ondersoekspan vir ernstigehandelsmisdaadondersoekspan in hegtenis geneem, sê ao. Nomthandazo Mnisi, Valke-woordvoerder.

Verlies van miljoene

“Na bewering het die beskuldigdes in 2020 ’n ooreenkoms met Kai !Garib-munisipaliteit aangegaan om water en elektrisiteit namens die munisipaliteit te verkoop,” verduidelik Mnisi. Die ooreenkoms het vereis dat alle geld wat uit hierdie verkope ingesamel word, na die munisipaliteit se bankrekening oorgeplaas word.

Die beskuldigdes het dié ooreenkoms glo slegs twee maande lank eerbiedig, voordat hulle na bewering opgehou het om die ingevorderde geld na die munisipaliteit oor te dra. Dit het die plaaslike owerheid ’n verlies van R1,2 miljoen laat ly.

Die beskuldigdes is elk borgtog van R5 000 toegestaan en die saak is tot 17 Maart uitgestel vir verdere hofverrigtinge.  

Noord-Kapenaars een tree nader aan geregtigheid | News Article

Roslyn Crossingham. Foto: SAPD

Intussen sal twee Noord-Kaapse vroue wat van mynbedrog aangekla word ook middel Maart voorkom vir ’n voorverhoor.

Roslyn Crossingham (72) en Martha Rapetsoa (49) het Vrydag (13/2) in die handelsmisdaadhof in Kimberley verskyn. Hulle staan tereg op aanklagte wat verband hou met die beweerde bedrieglike handel in mynregte.

Die beskuldigdes het die eerste keer op 10 September in die Douglas-landdroshof verskyn, waar Crossingham borgtog van R15 000 en Rapetsoa borgtog van R800 toegestaan is, sê kol. Tebogo Thebe, provinsiale polisiewoordvoerder.

LEES OOK: Bedrog: Drie Noord-Kapenaars weer voor op bedrogklagte 

“Crossingham het aanvanklik op 9 Julie verskyn, voordat sy as ’n tweede beskuldigde bygevoeg is, terwyl Rapetsoa, ’n mededirekteur van Rowen Tree 60, die eerste keer op 19 Junie verskyn het.”

Rapetsoa word daarvan beskuldig dat sy ’n aansoek teruggetrek het om prospekteerregte te hernu, nadat die departement van minerale hulpbronne en energie dit reeds verwerk het. Crossingham word daarvan beskuldig dat sy ’n aparte aansoek in 2012 teruggetrek het terwyl sy mededirekteur van dieselfde maatskappy was.

Ongeldige mynregte verkoop

Die vroue en hul mededirekteure word voorts daarvan beskuldig dat hulle die maatskappy, insluitend ongeldige mynregte, in 2015 vir R100 000 aan ’n sakeman verkoop het.

Voordat die betaling afgehandel is, het Crossingham na bewering die maatskappy aan ’n ander koper verkoop en die kansellasiebrief weggesteek om dit te laat lyk asof die prospekteerregte steeds geldig is, sê Thebe. 

Die klaer, wat geglo het die regte was wettig, het na bewering R1,37 miljard betaal, waarvan R100 000 in een paaiement was.

* Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

OFM Nuus/Charne van der Merwe mvh

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.