On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Woensdagvoorskrif: Marcus die apteker gee raad oor ystertekort

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 11:10 Wed, 25 Feb 2026

Woensdagvoorskrif: Marcus die apteker gee raad oor ystertekort | News Article
Die apteker Pieter Marcus, ook bekend is as Marcus die Apteker. Foto verskaf

Wat presies is ystertekort, en watter rol speel yster in die liggaam?

Baie van ons is al op ’n stadium deur ’n dokter meegedeel dat ons ’n ystertekort het en het ’n voorskrif vir daaglikse ystertablette gekry. Maar wat beteken dit eintlik? 

Wat is die simptome en wat veroorsaak dit?

Ystertekort is wanneer jou liggaam se ystervoorrade laag raak. Dit word eers opgespoor as ’n afname in ferritienvlakke. 

Yster is ’n noodsaaklike komponent van hemoglobien, die proteïen in rooibloedselle wat suurstof van jou longe na die res van jou liggaam vervoer, sê die apteker Pieter Marcus, wat op sosiale media bekend is as Marcus die Apteker.

Benewens suurstofvervoer speel yster ook ’n sleutelrol in spierprestasie, breinfunksie, energieproduksie en algehele sellulêre gesondheid. Wanneer jou ystervlakke daal, kan hierdie noodsaaklike prosesse nie optimaal funksioneer nie.

Simptome

Vir die meeste mense is die eerste teken van ystertekort voortdurende moegheid of om kortasem te word tydens eenvoudige aktiwiteite soos trappe klim of oefening. Maar simptome kan baie wissel, sê Marcus, na gelang van hoe laag die ystervlakke is en ’n persoon se algemene gesondheid.

Vyf vroeë waarskuwingstekens sluit in duiseligheid of lighoofdigheid, hartkloppings, swak konsentrasie, gereelde hoofpyn en prikkelbaarheid. Omdat hierdie simptome so algemeen in die alledaagse lewe voorkom, dink baie mense dit is vanweë stres. 

Moeite om te konsentreer, kortasem en selfs rustelose bene in die nag word dikwels oor die hoof gesien as moontlike tekens van lae yster.

Ystertekort kan veroorsaak dat jy makliker siek word. Foto: iStock

Ferritien, die liggaam se ysterbergingsmerker, kan daal voordat hemoglobienvlakke daal, verduidelik Marcus. Dit beteken dat mense ongesteld kan voel, selfs al is hulle nog nie “amptelik” bloedarmoedig nie.

Hartkloppings of ’n vinnige, onreëlmatige hartklop is veral belangrike waarskuwingstekens. Wanneer daar minder hemoglobien beskikbaar is om suurstof te dra, moet die hart harder werk om die liggaam van yster te voorsien. 

Yster ondersteun ook die immuunstelsel, so lae vlakke kan mense meer geneig maak tot infeksies en makliker siek word.

Oorsake 

Die mees algemene oorsaak van ystertekort is bloedverlies. “By vroue dink ons eers aan swaar menstruasieperiodes; by mans en postmenopousale vroue dink ons baie sterk aan maag- en dermbloedverlies,” sê Marcus.

Bloeding in die spysverteringskanaal van die slukderm en maag tot die dunderm en dikderm is dikwels “onsigbaar”. Mense sien dalk nie bloed nie, maar geleidelike verlies oor tyd kan steeds tot ystertekort lei. 

Moontlike oorsake sluit in peptiese ulkusse, gastritis, inflammatoriese dermsiektes soos Crohn se siekte of ulseratiewe kolitis, aambeie en poliepe.

Omdat die liggaam nie yster kan produseer nie, moet dit uit voedsel kom. Foto: PharmEasy

Nog ’n oorsaak is ’n verhoogde behoefte aan yster. “Jou liggaam benodig meer yster as gewoonlik vir ’n tydperk,” verduidelik Marcus. 

As daardie verhoogde vraag nie nagekom word nie, kan ystervoorrade stadig uitgeput raak. Dit gebeur algemeen tydens swangerskap, borsvoeding en periodes van vinnige groei by tieners en kinders.

Lae dieetinname kan ook ’n rol speel. Omdat die liggaam nie yster kan produseer nie, moet dit uit voedsel kom. ’n Konsekwent lae-ysterdieet kan uiteindelik tot tekort lei. 

Ander oorsake

In ander gevalle is die probleem nie inname nie, maar absorpsie. Sekere mediese toestande of operasies kan die liggaam se vermoë om yster behoorlik te absorbeer, belemmer, selfs wanneer die dieet voldoende is.

Groepe met ’n hoër risiko sluit in tienermeisies en vroue (veral dié met swaar menstruasie), swanger vroue, babas en kleuters, gereelde bloedskenkers, en mense met gastroïntestinale toestande soos Crohn se siekte of ulseratiewe kolitis.

Ysterryke voedselsoorte

Ysterryke voedselsoorte speel ’n belangrike rol in die voorkoming van ystertekort en die ondersteuning van herstel, maar dit is dikwels nie genoeg op hul eie sodra lae yster bevestig is nie.

“Dieetveranderinge alleen is dikwels nie genoeg as jy lae yster bevestig het nie,” sê Marcus. “’n Goeie dieet kan dit ondersteun, maar ysteraanvullings is gewoonlik nodig om ystervoorraad effektief en betyds te herstel.”

Daar is ook ’n verskil tussen dierlike en plantaardige bronne van yster. Heemyster, wat in rooivleis, hoender, vis, seekos en lewer voorkom, word oor die algemeen beter geabsorbeer as nieheemyster uit plantaardige voedselsoorte soos peulgewasse, spinasie, versterkte graankosse, sade en neute.

Groot ysterdiewe

Maar navorsing verbind plantaardige ysterbronne met ’n laer risiko van hartsiektes en beroerte, noem Marcus; daarom is ’n gebalanseerde benadering die beste – die kombinasie van die beter absorpsie van dierlike bronne met die kardiovaskulêre voordele van plantaardige voedselsoorte. Hy beveel ook aan om plantgebaseerde yster te koppel met vitamien C-ryke voedselsoorte soos sitrus, soetrissies of tamaties om absorpsie te verbeter. 

“Die groot ysterdiewe is koffie en tee, suiwelprodukte, alkohol, veselryke kosse en teensuurmiddels soos omeprasool,” sê Marcus. Koffie of tee kan absorpsie met 60% of meer verminder.

Kalsium belemmer opname, veselryke kosse soos volgraan en rou groente bind yster, en alkohol beïnvloed verwerking en irriteer die maag. Hy beveel aan om twee uur te wag voor of ná die neem van ysteraanvullings met die inname hiervan.

Marcus sê ’n mens moenie raai of jy lae yster het nie – laat jou toets. ’n Dokter kan dit met bloedtoetse bevestig en, as die vlakke laag is, die oorsaak ondersoek, soos bloedverlies, swak absorpsie of verhoogde aanvraag.

Behandeling behels gewoonlik ’n ysteraanvulling vir drie tot ses maande, soms langer, na gelang van hoe laag die vlakke is en hoekom. Net so belangrik is opvolgtoetse om te verseker dat die vlakke verbeter.

Selfs al keer die resultate terug na “normaal” terwyl jy aanvullings gebruik, beveel Marcus aan om weer te toets nadat jy die behandeling gestaak het om seker te maak dat ystervoorrade stabiel bly en dat die probleem werklik opgelos is, nie net tydelik aangepas is nie.

Oorsaak van ystertekort

Normale ystervlakke wissel ’n bietjie afhangende van die laboratorium, maar as jou yster laag is, dui dit gewoonlik op ’n ystertekort. Die eerste stap is nie net om aanvullings te neem nie – dit is om uit te vind hoekom jou yster laag is. 

Behandeling begin gewoonlik met ystertablette, kapsules, poeier of stroop.

Volgens Marcus is die aanbeveling nou dikwels een keer daaglikse dosering, of selfs elke tweede dag, in plaas van die ou drie-keer-per-dag-roetine om dit makliker te verdra. “As orale yster nie werk of nie verdra word nie, is ’n ysterdrup ’n opsie.

Ystertekort kan hoofpyne veroorsaak. Foto: iStock

“Die meeste mense neem yster vir ten minste drie maande, soms tot ses, en langer as die oorsaak voortduur. Daarom is opvolg bloedtoetse noodsaaklik – om seker te maak jou vlakke styg nie net tydelik nie, maar bly eintlik stabiel oor tyd.”

Algemene newe-effekte van yster sluit in naarheid, maagpyn, hardlywigheid en donker stoelgang.

“As dit gebeur, praat met jou dokter. Dikwels sal hulle die dosis verlaag of oorskakel na elke tweede dag se dosis, en die newe-effekte word gewoonlik baie beter,” sê Marcus.

Neem yster op sy eie. Foto: iStock

“Die grootste fout wat mense maak, is om yster te neem sonder om hul vlakke na te gaan of die oorsaak te vind – dinge soos voortdurende bloedverlies of swak absorpsie kan gemis word.

“Nog ’n fout is om yster saam met koffie, tee, kalsium of vesel te neem, wat absorpsie blokkeer. Neem yster op sy eie en wag ten minste twee uur voor enige daarvan geneem word om opname die beste te laat werk.”

Marcus se agtergrond

Marcus het in Welkom, Vrystaat, grootgeword met ’n sterk passie vir wetenskap en om ander te help.

Hy het aptekerswese gevolg omdat dit albei sy belangstellings kombineer en deurlopende leer en geleenthede bied om pasiëntesorg en gemeenskapsgesondheid te beïnvloed.

Hy het aan die Noordwes-Universiteit (Potchefstroom) studeer, sy internskap by Life Healthcare Klerksdorp voltooi met ’n fokus op kliniese apteekkunde, en gemeenskapsdiens by die Mafikeng- provinsiale hospitaal gedoen, waar hy kliniese projekte ontwikkel en geïmplementeer het om pasiëntesorg te verbeter.

* Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

OFM Nuus/Charne van der Merwe mvh

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.