On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Beweerde eiendomsbedrog: Oudlanddros van Vrystaat uit op borgtog

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 11:07 Wed, 04 Mar 2026

Beweerde eiendomsbedrog: Oudlanddros van Vrystaat uit op borgtog | News Article
Foto ter illustrasie, iStock

’n Gewese waarnemende landdros van die Vrystaat wat in hegtenis geneem is in verband met beweerde eiendomsbedrog, is op borgtog vrygelaat.

Lerata Shadrack Mashee (50), ’n advokaat wat voorheen as waarnemende landdros in die Bloemfonteinse landdroshof gedien het, het Dinsdag (3/3) in dieselfde hof voorgekom. Borgtog van R5 000 is aan hom toegestaan, sê lt.kol. Zweli Mohobeleli, Valke-woordvoerder.

“Mashee moet, as deel van sy borgtogvoorwaardes, elke Maandag, Woensdag en Saterdag tussen 07:00 en 19:00 by die Botshabelo-polisiekantoor aanmeld.”

Mashee staan tereg op aanklagte van bedrog, geldwassery en die beweerde verskaffing van regsdienste sonder magtiging. Hy word daarvan verdink dat hy bedrieglike eiendomstransaksies van honderdduisende rande behartig het en het na bewering sedert September die gereg ontduik het.

Mashee is op 22 Februarie in Botshabelo aangekeer tydens ’n gesamentlike optrede waarby die Valke, die taktiesereaksiespan en misdaadintelligensie betrokke was, sê Mohobeleli. Tydens sy inhegtenisneming het hy glo weggekruip.

“Die beskuldigdes het na bewering tussen 2019 en 2022 saamgespan met eiendomsagente, onder wie Teboho Samuel Taso, sowel as moontlik onbekende of fiktiewe verkopers. Hulle word daarvan beskuldig dat hulle huise wat nie op die mark was nie, aan … kopers ‘verkoop’ het.”

Mashee het na bewering as aktebesorger in hierdie transaksies opgetree, sê Mohobeleli. “Slagoffers het altesaam R890 000 in die beskuldigdes se bankrekeninge gedeponeer nadat advertensies vir huise te koop in ’n plaaslike koerant verskyn het. Mashee het as die beweerde aktebesorger in die transaksies opgetree.”

Volgens Mohobeleli het die slagoffers agterdogtig geraak ná langdurige vertragings in die besitneming van die eiendomme wat hulle glo gekoop het. Later is vasgestel dat Mashee nie gemagtig of gesertifiseer was om as aktebesorger op te tree nie.

Regter Portia Phahlane. Foto: Judges Matter

In ’n afsonderlike saak is ’n ander lid van die regbank op spesiale verlof geplaas hangende die uitslag van ’n strafsaak teen haar. Regter Portia Phahlane is op 25 November in hegtenis geneem weens bewerings dat sy omkoopgeld van ongeveer R2 miljoen aanvaar het in verband met ’n regsgeskil oor opvolging binne die Internasionale Pinkster Heiligheidskerk.

Sy moet teen Vrydag (6/3) voorleggings doen aan die regterlike gedragskomitee, wat sal bepaal of daar prima facie-bewyse van oortreding aan haar kant is. 

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

OFM Nuus


 

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.