On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Klerksdorper se saak weer van rol geskrap ná moord op eks

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 10:33 Tue, 10 Mar 2026

Klerksdorper se saak weer van rol geskrap ná moord op eks | News Article
Quinn van den Bergh en Barbara Groenewald. Foto: Facebook

’n Man van Noordwes wat daarvan beskuldig word dat hy sy voormalige verloofde vermoor het, se saak is vir die tweede keer van die hofrol geskrap.

Die moordsaak teen Quinn van den Bergh (40) is geskrap nadat die hof bevind het die korrekte prosedures is nie gevolg toe die saak vroeg verlede maand opnuut op die rol geplaas is nie. Die saak is in Mei ook van die rol geskrap nadat die staat ernstige foute begaan het.

Van den Bergh, wat Vrydag (4/3) in die streekhof in Klerksdorp verskyn het, het vroeër in ’n bekentenis erken hy het Barbara Groenewald (31) op 22 Oktober 2022 meermale gesteek, voordat hy haar in haar huis agtergelaat en dit aan die brand gesteek het.

“Die staat werk dringend om die saak weer op die rol te kry,” sê Sivenathi Gunya, Noordwes- NVG-woordvoerder. Dis aanvanklik in Mei geskrap omdat die staat nie kon verklaar waarom nog nie aan ’n bevel voldoen is dat Van den Bergh ’n tweede keer vir sielkundige waarneming moes gegaan het nie.

Quinn van den Bergh en Barbara Groenewald. Foto: Facebook

Hy is egter in Oktober in hegtenis geneem nadat Barbara se ma, Estelle Groenewald, die privaat speurder Mike Bolhuis genader het.

Ná sy inhegtenisneming het Van den Bergh weer op 6 Oktober in die hof verskyn en is op borgtog van R2 000 vrygelaat. Tydens sy borgtogverhoor het die hof gehoor dat hy van plan was om skuld te ontken en sou aanvoer dat “sielkundige stresfaktore” moontlik tot die misdryf bygedra het.

’n Verklaring deur ao. Tharina Kemp, ondersoekbeampte, wat tydens die borgtogverhoor van 2022 aangebied is, het aan die lig gebring Van den Bergh het die aand van die moord na Groenewald se huis gegaan om te kyk met wie sy op haar foon kommunikeer. Hy het steeds ’n sleutel tot haar huis gehad.

“Toe hy die huis binnegaan, het Barbara wakker geword. ’n Rusie het ontstaan, waarna hy haar (na bewering) met ’n mes in die gesig gesteek het,” lui die verklaring. Van den Bergh het aan die polisie gesê hy het uit vrees dat hy bewyse agtergelaat het, petrol in die huis gegooi en dit toe aan die brand gesteek.

In die nadoodse ondersoek is bevind Groenewald het steek- sowel as brandwonde opgedoen en het nog geleef het toe die brand begin het.

Van den Bergh het hom twee dae ná die moord aan die polisie oorgegee en sy betrokkenheid erken.

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

OFM Nuus/Charne van der Merwe sm


@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.