Central SA
Pleitooreenkoms verwag ná ongeluk drie jong lewens eis buite Bloemfontein─── CHARNÉ VAN DER MERWE 11:11 Mon, 23 Mar 2026
Die jong man wat aangekla word in verband met ’n ongeluk wat die lewens van drie kinders op die N8 oos van Bloemfontein geëis het, sal na verwagting ’n pleitooreenkoms aangaan.
Tristan Kearney (20) kom weer Dinsdag (24/2) voor in die Bloemfonteinse streekhof. Hy gaan glo ’n formeel pleitooreenkoms aflê en sy vonnis aanhoor, presies ’n jaar en twee dae ná die ongeluk.
Kearney staan tereg op aanklagte van strafbare manslag, roekelose en nalatige bestuur en versuim om ’n padverkeersteken te gehoorsaam. Hy het die eerste keer op 2 Desember in die hof verskyn, byna elf maande ná die voorval.
Landdros Rasheed Matthews het met ’n vorige hofverskyning gesê die saak duur solank weens die omvang van die aanklagte en die magdom dokumentasie.

Familie van die Smit-boeties omhels mekaar in trane ná die hofverrigtinge. Foto: Charne van der Merwe
Ryan Smit (6) en sy niggie Leané van Papendorp (8) is op 24 Januarie op slag dood in die ongeluk by die kruising van die nasionale pad en Krugerlaan, oorkant Aljo se Superspar. Ryan se broer, Ayden (8), is later in die hospitaal oorlede.
Nog ’n kind, Tennique Joubert (toe 6), was ná die ongeluk byna twee weke lank in ’n koma in die Pelonomi-hospitaal in Bloemfontein. Haar milt moes verwyder word en sy is ontslaan nadat sy 19 dae in die hospitaal deurgebring het.

Tennique Joubert. Foto: Facebook/Dr CF Visser Primêre Skool
Adri Jonck, Leané se ma, het die Chevrolet Spark bestuur wat in die botsing betrokke was. Haar vier jong passasiers was op pad na die Primêre Skool Dr. C.F. Visser in Estoire. Sy het ernstige beserings opgedoen en is na die Pelonomi-hospitaal geneem, maar is later die dag ontslaan.
Adv. Allen Simpson, Kearney se regsverteenwoordiger, het voorheen aan OFM Nuus gesê die staat se deskundige verslag dui daarop dat beide bestuurders moontlik aanspreeklik gehou kan word. Hy sê dit is vreemd dat Jonck nie ook vervolg is nie.
Martin Smit, die broers se pa, het Kearney op 20 Januarie vir die eerste keer gesien sedert die ongeluk en in trane uitgebars.
Smit sê aan OFM Nuus hy weet nie wat om van die hofverrigtinge te verwag nie. “Ek wil hê hy moet die maksimum vonnis kry. Gerugte doen die rondte hy gaan moontlik net huisarres en gemeenskapsdiens kry. Ek weet nie hoe ek dit gaan hanteer nie.”

Familie en vriende se hemde. Foto: Charne van der Merwe
Hy sê alles voel steeds onwerklik. “Ek sit op die stoep en wag dat hulle huis toe kom, asof hulle enige oomblik van hul ouma se huis af gaan hardloop.”
Die Bloemfonteinse prokureur Adrian Saffy het Simpson opdrag gegee om Kearney in die saak te verteenwoordig.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.
OFM Nuus/Charne van de Merwe dg
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.


