On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
Show Background
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

Central SA

Apteker se voorskrif: Kenner waarsku teen daaglikse gebruik van pynpil

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 12:00 Wed, 13 May 2026

 Apteker se voorskrif: Kenner waarsku teen daaglikse gebruik van pynpil | News Article
Die apteker Pieter Marcus, ook bekend is as Marcus die Apteker. Foto verskaf

Adco-Dol is dalk ’n bekend naam in baie Suid-Afrikaanse medisynekaste, maar ’n apteker waarsku die vertroude middel verberg dalk ernstige risiko’s – veral wanneer dit gereeld gebruik word.

Terwyl baie mense na die gewilde pyntablet gryp vir hoofpyn, rugpyn of menstruele krampe, is die kombinasiemedikasie nie iets is wat hy as ’n eerste keuse aanbeveel nie. Hierdie tablet bevat vier aktiewe bestanddele, sê Marcus die Apteker.

Sy hoofbekommernis is eenvoudig dat kodeïen, parasetamol, doksielamien en kafeïen elkeen met sy eie newe-effekte, risiko's en moontlike interaksies gepaard gaan.

“Wanneer jy vier aktiewe bestanddele in een tablet pak, verhoog jy die kanse dat iets jou nadelig kan beïnvloed, veral as jy reeds chroniese medikasie gebruik,” sê Marcus.

Terwyl baie mense Adco Dol as ’n vinnige en effektiewe oplossing beskou, is die kodeïenkomponent die grootste gevaarteken. Kodeïen is ’n opioïed en kan lomerigheid, duiseligheid, naarheid, hardlywigheid en verswakte konsentrasie veroorsaak. In hoër dosisse, of wanneer dit met alkohol of kalmeermiddels gekombineer word, kan dit selfs asemhaling onderdruk.

“Met die jare het ons baie gevalle gesien van mense wat afhanklik raak van kodeïenbevattende pynmedikasie. Dit begin dikwels onskuldig, maar toleransie bou op, en later word dit moeilik om te stop.”

Adco-Dol bly gewild omdat dit ’n sterk reputasie vir vinnige verligting opgebou het, vertel Marcus. Aangesien dit onder aptekertoesig is, neem baie mense ook sommer aan dis veilig.

“Maar dit beteken nie altyd dat die volle gesprek oor risiko’s elke keer gevoer word nie. Sommige mense koop dit herhaaldelik, en gereelde gebruik kan maklik ’n patroon word sonder dat iemand dit agterkom.”

Nog ’n rede vir die gewildheid daarvan is toeganklikheid, sê hy. Baie Suid-Afrikaners het nie vinnige toegang tot ’n dokter nie en soek eerder na bekostigbare medikasie wat onmiddellike verligting bied sonder dat ’n afspraak nodig is.

Adco-Dol het glo baie nadele. Foto: Facebook

Elke bestanddeel in Adco-Dol beïnvloed die liggaam anders. “Parasetamol werk hoofsaaklik in die brein om pyn en koors te verminder, terwyl kodeïen ook op die sentrale senuweestelsel inwerk om pynpersepsie te demp.

“Doksielamien is ’n kalmerende antihistamien wat gebruikers slaperig maak, terwyl kafeïen kan help om sekere hoofpyn te verlig deur bloedvate te vernou.”

Hoewel parasetamol oor die algemeen as veilig beskou word wanneer dit korrek gebruik word, waarsku Marcus dit kan gevaarlik word wanneer mense onwetend verskeie produkte kombineer wat dieselfde bestanddeel bevat.

‘Mense dink dalk hulle neem twee verskillende medisyne, maar hulle 
verdubbel eintlik dieselfde aktiewe bestanddeel’

“Parasetamol word in baie verkoue- en griepprodukte aangetref. Mense dink dalk hulle neem twee verskillende medisyne, maar hulle verdubbel eintlik dieselfde aktiewe bestanddeel, wat die lewer ernstig kan beskadig.”

Hy sê mense met lewersiekte, diegene wat gereeld alkohol drink en wat reeds medisyne neem wat die lewer beïnvloed, moet veral versigtig wees.

Die korttermyn-newe-effekte van Adco-Dol kan wissel van lomerigheid en naarheid tot dowwe visie, angs en hartkloppings.

Die kombinasie is veral riskant vir ouer mense, diegene met asma, slaapapnee of ander longtoestande, en enigiemand wat moet bestuur of masjinerie moet gebruik, sê Marcus.

Langtermyngebruik kan selfs groter risiko's inhou

“Die grootste probleem is toleransie. Mense begin voel asof die oorspronklike dosis nie meer genoeg is nie, en dan neem hulle dit meer gereeld of in groter hoeveelhede. Dit is presies hoe afhanklikheid insluip,” sê Marcus.

Gereelde gebruik van pynstillers kan ook ’n siklus skep wat bekend staan as medikasie–oorgebruik–hoofpyn, waar gereelde gebruik eintlik hoofpyn mettertyd meer algemeen maak.

“As jy pynstillers meer as twee dae per week benodig, is dit gewoonlik ’n teken dat die onderliggende oorsaak aangespreek moet word, nie net met nog ’n tablet bedek moet word nie.”

Waarskuwingstekens van kodeïenafhanklikheid sluit in die gebruik van die medikasie vir redes anders as pyn, vertel hy, soos om te ontspan of te slaap, angstig te raak wanneer dit opraak, om dit meer gereeld nodig te hê, of daaglikse aktiwiteite te beplan rondom die versekering dat dit beskikbaar is.

“Mense kan ook fisieke tekens opmerk soos aanhoudende hardlywigheid, ongewone moegheid, onttrekkingsimptome wanneer dosisse oorgeslaan word, en toenemende hoofpyn ten spyte van die neem van meer medikasie.”

Vir algemene pyn soos hoofpyn, spierpyne en menstruele krampe, beveel Markus enkelbestanddeel-, nie-opioïed opsies aan waar moontlik.

“Die veiliger reël is gewoonlik enkelbestanddeel pynmedikasie.”

Hy verduidelik parasetamol of anti-inflammatoriese medisyne soos ibuprofen, naproxen en diclofenac dikwels beter keuses is, afhangende van die oorsaak van die pyn en die persoon se mediese geskiedenis.

‘Daar moet strenger monitering van kodeïenbevattende medisyne in Suid-Afrika wees’

“Vir inflammatoriese pyn soos menstruele krampe, kan naproxen besonder goed werk, terwyl rugpyn dikwels beter reageer op nie-medikasie benaderings soos hitte, beweging, strek en versterkingsoefeninge.

Diclofenac-jel kan ook ’n veiliger opsie wees vir gelokaliseerde pyn omdat dit direk op die pynlike area aangewend word en minder in die bloedstroom geabsorbeer word as tablette.”

Marcus glo ook daar moet strenger monitering van kodeïenbevattende medisyne in Suid-Afrika wees, maar nie noodwendig ’n totale verbod nie.

“Dit gaan minder daaroor om dit heeltemal weg te neem en meer daaroor om seker te maak dat elke uitreiking klinies sin maak. Strenger rekordhouding, kleiner hoeveelhede en beter pasiëntopvoeding kan help om kodeïenafhanklikheid te voorkom voordat dit begin.”

Volgens Marcus is een van die grootste foute wat mense met oor-die-toonbank-medisyne maak, om aan te neem dat omdat ’n produk sonder ’n voorskrif beskikbaar is, dit outomaties onskadelik is.

“Oor-die-toonbank beteken nie altyd veilig nie. Dit beteken slegs dat dit vir korttermyn-selfbehandeling gebruik kan word indien dit presies soos aangedui geneem word.”

Die meng van verskillende medikasie sonder mediese advies kan gevaarlik wees, waarksu hy, veral omdat baie produkte oorvleuelende bestanddele bevat. Dit kan lei tot toevallige oordosis, erge lomerigheid, interne bloeding, nierskade of lewersiekte.

“Mense moet ook versigtig wees vir die aanname dat kruie- of natuurlike middels altyd veiliger is as farmaseutiese medisyne.

“Natuurlik beteken nie outomaties veilig nie. Dit beteken slegs dat dit van ’n natuurlike bron afkomstig is. Baie kruie bevat kragtige aktiewe chemikalieë en kan steeds newe-effekte veroorsaak of met ander medisyne interaksie hê.”

Die belangrikste vraag wat mense moet vra voordat hulle enige medisyne neem, is nie net of dit werk nie, maar of dit steeds die veiligste opsie vir hulle is, meen hy.

“As jy gereeld iets nodig het, is dit gewoonlik ’n teken dat dit tyd is om met ’n apteker of dokter te praat oor ’n beter langtermynplan,” sê Marcus.

OFM Nuus/Charne van der Merwe

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.