On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Dylan Bothma se familie vra hulp om ondersoek voort te sit

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 11:24 Thu, 14 May 2026

Dylan Bothma se familie vra hulp om ondersoek voort te sit | News Article
Dylan Bothma. Foto verskaf

Byna drie jaar ná die dood van Dylan Bothma (18) op Heidelberg, Gauteng, het sy familie ’n geldinsameling begin om stygende regskoste te help bestry terwyl hulle steeds soek na antwoorde.

Familie en vriende het onlangs ’n veldtog begin om geld in te samel met twee hoofdoelwitte voor oë: Die vereffening van uitstaande regskoste van ’n vorige hofsaak en die insameling van geld vir moontlike verdere siviele aksie, sê sy ma, Elsie Bothma.

Die familie se regskoste spruit uit ’n regsgeding wat teen die Bothma-familie aanhangig gemaak is. Op die tweede herdenking van Dylan se dood, 25 Junie, het hulle foto’s in ’n private Facebook-groep, Geregtigheid vir Dylan Bothma, gedeel van die mense wat hulle van sy dood verdink.

Dit was “van mense wat vermoedelik die partytjie bygewoon het waar Dylan laas lewend gesien is en wat moontlik inligting het oor wat gebeur het of wie moontlik betrokke was,” vertel sy.

Dylan word beskryf as 'n liefdevolle sagte persoon. Foto verskaf

Dit was veronderstel om ’n private ondersteuningsgroep te wees, maar hulle glo iemand in die groep het skermgrepe geneem en dit gestuur aan die mense wat Dylan se familie glo sy dood veroorsaak het.

Dit het gelei tot regstappe teen die Bothma-ouerpaar wat hulle gedwing het om ’n prokureur aan te stel. En twee van die betrokkenes het steeds interdikte teen hulle. Die familie hoop om R56 000 in te samel om die prokureur te betaal wat hulle in daardie saak gebruik het.

'n Tweede doel van die geldinsameling is regsverteenwoordiging te bekom vir ’n moontlike siviele saak.

“Ons kan nie drie jaar laat verbygaan en net aanvaar dat daar niks gebeur het nie,” sê Elsie. “Ons wil voortgaan met regstappe, want ons voel daar is steeds baie onbeantwoorde vrae.”

Niemand is nog aangekeer weens Dylan se dood nie. Foto verskaf

Die familie glo daar was nalatigheid, wangedrag en ’n gebrek aan deursigtigheid in die hantering van die saak, en sê hulle hoop om stappe te doen teen mense wat hulle glo ’n rol gespeel het in die gebeure rondom Dylan se dood. Elsie sê hulle kon nog nie ’n prokureur vind wat bereid is om die saak pro bono aan te pak nie.

Dylan het op 23 Julie 2023 ’n tienerpartytjie bygewoon en is later kritiek beseer gevind. Hy is twee dae later in die hospitaal oorlede.

Hoewel aanvanklik geglo is dat die voorval ’n tref-en-trap-ongeluk was, het sy familie later beweer mense wat die partytjie bygewoon het, het gesê dat hy aangerand is voordat hy deur voertuie op die pad getref is.

In Maart het familie, vriende en lede van die motorfietsgemeenskap ook ’n Ride for Justice gereël om bewustheid oor die saak te skep. Tydens die geleentheid is ’n petisie, onderteken deur lede van die publiek, aan ’n verteenwoordiger by die Heidelberg-polisiekantoor vir die stasiekommissaris oorhandig.

“Ons het daardie petisie oorhandig en ons wag steeds vir terugvoer. Ons wil net hê iemand moet ons hoor en dat die waarheid oor wat met Dylan gebeur het, uitkom. Ons het reeds R60 000 aan regskoste bestee. Prokureurs, hofstukke, ondersoeke en die koste styg,” sê Elsie.

“Elke verhoor, elke dokument, elke stap in die rigting van die waarheid dreineer ons finansieel en emosioneel. Ons kan dit nie alleen doen nie.

“Dylan kan nie meer vir homself praat nie, maar hy sou wou hê ons moet aanhou veg. Hy was die stem vir die underdog, die een wat opgestaan het toe ander stilgebly het. Nou het ons jou nodig om sy stem te wees.”

Elsie sê die veldtog is die familie se poging om die saak vorentoe te laat beweeg en te verseker dat Dylan nie vergeet word nie. “My kind verdien geregtigheid, en ons gaan nie ophou om vir hom te veg nie.”

OFM Nuus/Charne van der Merwe sm

Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 4871427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.