On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Diensleweringskrisis eis tol: Ngwathe-munisipaliteit verloor finale hofstryd

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 12:23 Wed, 03 Jun 2026

Diensleweringskrisis eis tol: Ngwathe-munisipaliteit verloor finale hofstryd | News Article
Die Ngwathe-munisipaliteit het bloedneus gekry in die Grondwethof. Foto verskaf

’n Noordwes-munisipaliteit se stryd om teen ’n hofbevel vir die ontbinding van die munisipale raad te appelleer, is ’n finale nekslag toegedien.

Die Grondwethof het Dinsdag (2/6) Ngwathe se aansoek om verlof tot appèl met koste van die hand gewys. Hiermee is ’n beduidende en finale oorwinning in die diensleweringsaak teen dié Vrystaatse munisipaliteit behaal, meen Alta Pretorius, AfriForum se streekskoördineerder vir die Mooirivier-distrik.

Dis die eerste keer dat ’n hofbevel daarin slaag om die ontbinding van ’n plaaslike owerheid af te dwing. AfriForum beskou die oorwinning van deurslaggewende belang omdat dié saak as presedent kan dien in soortgelyke gevalle waar die organisasie swak dienslewering in ander munisipaliteite beveg.

Hy het in Mei 2024 ’n aansoek ingedien by die hooggeregshof in Bloemfontein en versoek dat die munisipaliteit weens ’n diensleweringskrisis onder provinsiale administrasie geplaas word.

Die saak is in Desember daardie jaar aangehoor en in Junie verlede jaar het regter J.P. Daffue sy uitspraak gelewer. Hy het beslis dat Ngwathe-munisipaliteit nie sy grondwetlike, wetlike en administratiewe verpligtinge teenoor die inwoners van onder meer Parys, Heilbron, Koppies en Vredefort nakom nie.

Hy het beveel dat die munisipale raad ontbind word en die Vrystaatse provinsiale regering onmiddellik by die munisipaliteit moet ingryp. Die munisipaliteit het egter herhaaldelik onsuksesvol probeer om teen dié beslissing te appelleer, eers na die appèlhof en toe die Grondwethof.

“Die uitspraak is die finale spyker in die doodskis van ’n munisipaliteit waar dienslewering lank gelede reeds tot niet gegaan het,” sê Pretorius. “Jare se sistemiese tekortkominge in dié munisipaliteit het gelei tot die lewering van besoedelde water, herhaalde rioolstortings, finansiële insolvensie en gebrekkige bestuur.”

Die hof het dit meermale duidelik gestel dringende en besliste remediëring is noodsaaklik. “Ná jare se teenkanting en ’n regsgeding wat meer as ’n jaar geduur het, moet die munisipaliteit nou die stryd finaal gewonne gee en plek maak vir die herstel van Parys en ander dorpe in dié munisipaliteit.”

Pretorius benadruk die dringende herstel van die munisipaliteit is in die belang van inwoners. “Ek hoop werklik dat die munisipaliteit nou sal erken dat hulle verloor het en sal plek maak vir mense wat bevoeg is om die werk te doen.

“Ek hoop ook dat die provinsie sal doen wat die hof hulle gelas het om te doen. Die inwoners van Ngwathe kan nie nog houe absorbeer nie. Hulle verdien ’n bevoegde munisipaliteit wat dienste kan lewer.”

Schalk Burger, voorsitter van AfriForum se Parys-tak, sê Parysenaars is verheug oor die besluit. “Dit was ’n jarelange stryd om tot hier te kom en ons het ernstige teenkanting in die proses getrotseer.

“Die inwoners van onder meer Parys, Vredefort en Koppies het intussen die duur prys van swak dienslewering betaal en dit elke dag belééf. Maar nou is die oorwinning selfs soeter met die wete dat ons dié hoofstuk finaal kan afsluit en as gemeenskap saam kan begin herbou aan ons dorpe. Vandag het geregtigheid waarlik geseëvier.”

OFM Nuus/Charne van der Merwe sm

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.