On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
Show Background
NEXT: 19:00 - 22:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Central SA

Smithfield-plaasaanvallers gevonnis ná aanval op bejaardes

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 15:13 Tue, 09 Jun 2026

Smithfield-plaasaanvallers gevonnis ná aanval op bejaardes | News Article
Foto ter illustrasie, iStock

Die NVG verwelkom die vonnis wat twee mans opgelê is ná ’n gewelddadige plaasaanval op Smithfield tien maande gelede.

Maseli Silence Sechaba (29) en Sammy Paint Pakiso (38) is elk tot 20 jaar direkte tronkstraf gevonnis. Die beskuldigdes het skuld beken op aanklagte van roof met verswarende omstandighede, ontvoering, oortreding van die Wet op Kubermisdade, bedrog en die besit van vermoedelik gesteelde eiendom, sê Mojalefa Senokoatsane, NVG-woordvoerder.

Die hof het gelas die vonnisse moet gelyklopend uitgedien word, wat beteken albei is effektief 20 jaar direkte gevangenisstraf opgelê. Hulle is ook onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit.

Die aanval het op 3 Augustus plaasgevind toe die egpaar Gerald (81) en Althea (79) Diedericks ná ’n kerkdiens na hul plaas teruggekeer het.

Althea het opgemerk die kombuisdeur staan effens oop. Toe sy die huis binnegaan om ondersoek in te stel is sy deur twee gewapende mans oorval.

“Sy is aangerand, in die hand gesteek en met ’n mes gedwing om weer buitentoe te gaan, waar haar man die huis genader het. Die egpaar is daarna die huis binnegedwing en met kabelbinders vasgebind,” sê Senokoatsane.

Die aanvallers het die huis geplunder en selfone, kontant en juweliersware gesteel. Hulle het Gerald ook gedwing om R15 000 na ’n bankrekening oor te plaas wat aan ’n familielid van een van die beskuldigdes behoort.

Nadat hulle ’n kluis oopgebreek en nog R6 000 in kontant, asook verdere juweliersware gesteel het, het hulle Gerald in sy Mercedes-Benz ontvoer. Hy is later aan ’n boom vasgebind en daar agtergelaat.

Senokoatsane sê Althea het daarin geslaag om haarself los te maak, ondanks die beserings wat sy tydens die aanval opgedoen het. Sy het ’n nabygeleë koppie uitgeklim om selfoonsein te kry en plaaslike boere en die polisie ontbied.

‘Al die gesteelde eiendom is teruggevind’

’n Vinnige en goed gekoördineerde reaksie het daartoe gelei dat die verdagtes op die pad na Bethulie voorgekeer is. Sechaba en Pakiso is in hegtenis geneem en aan die Smithfield-polisie oorhandig. Al die gesteelde eiendom, insluitend die Mercedes-Benz, is teruggevind. Verdere ondersoek het aan die lig gebring dat Sechaba voorheen op die plaas gewerk het.

“Deeglike speurwerk en noue samewerking met die vervolgingsgesag het daartoe gelei dat die beskuldigdes skuld beken het,” sê Senokoatsane.

OFM Nuus sm

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.