Central SA
Vrae oor Vrystaatse munisipalitet ná hofbevel glo geïgnoreer word─── CHARNÉ VAN DER MERWE 09:01 Sat, 20 Jun 2026
’n Burgerregteorganisasie eis dringend antwoorde van die Vrystaatse premier oor die provinsiale regering se versuim om uitvoering te gee aan ’n hofbevel wat bepaal ’n munisipaliteit moet onder administrasie geplaas word.
AfriForum het vrae aan MaQueen Letsoha-Mathae gestuur nadat dit aan die lig gekom het die Ngwathe- munisipale raad het verlede week ’n begroting vir die nuwe boekjaar goedgekeur. Die raad moes egter ingevolge ’n hofbevel reeds ontbind gewees het, sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivierstreek.
Die hooggeregshof in Bloemfontein het reeds op 20 Junie 2025 beslis die munisipaliteit het sy grondwetlike, wetlike en administratiewe verpligtinge teenoor inwoners versuim.
Grondwet
Die hof het die provinsiale regering beveel om ingevolge art. 139(5) van die Grondwet in te gryp, ’n herstelplan toe te pas, die munisipale raad te ontbind, ’n administrateur aan te stel en ’n tydelike begroting op te stel en goed te keur.
Die hofbevel is finaal en afdwingbaar nadat die Konstitusionele Hof op 2 Junie vanjaar die munisipaliteit se laaste poging om teen die uitspraak te appelleer van die hand gewys het.
Pretorius sê die party is egter bekommerd dat die provinsiale regering nog nie die nodige stappe gedoen het om dié bevel uit te voer nie. Daar is boonop ook geen aanduiding die munisipaliteit is onder administrasie geplaas of ’n administrateur is aangestel nie.
“Die premier het volgens mediaberigte aangedui die hofbevel sal sonder versuim uitgevoer word. Tog lyk dit asof die munisipale raad steeds voortgaan om besluite te neem asof geen hofbevel bestaan nie. Dit wek ernstige vrae oor die provinsiale regering se nakoming van sy grondwetlike verpligtinge en die oppergesag van die reg,” sê Pretorius.
In sy skrywe aan die premier vra AfriForum daar moet teen 26 Junie skriftelik bevestig word watter stappe reeds gedoen is om die hofbevel uit te voer; wanneer die ingryping amptelik aangekondig gaan word; wanneer die munisipale raad ontbind en ’n administrateur aangestel sal word; en hoe die provinsie beoog om volle uitvoering aan die hofbevel te gee.
“De Ngwathe-munisipaliteit se inwoners gaan reeds jare lank gebuk onder swak dienslewering, swak infrastruktuur en bestuur. Die organisasie sal nie huiwer om verdere regstappe te doen indien die provinsiale regering versuim om aan die hofbevel gehoor te gee nie.”
Schalk Burger, voorsitter van AfriForum se Parys-tak, sê geen regeringsinstelling is bo die reg verhewe nie. “Die hof het duidelike instruksies gegee oor wat moet gebeur om die krisis in dié munisipaliteit te takel.
“Die Vrystaatse regering moet nou wys dat hy die hof se gesag respekteer en bereid is om in die belang van inwoners op te tree.”
OFM Nuus/Charne van der Merwe dg
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.


