Central SA
Mangaung-metro erken gebrek aan vermoë om stortingsterreine te bestuur─── CHARNÉ VAN DER MERWE 09:37 Sun, 21 Jun 2026
’n Politieke party eis antwoorde omdat die Mangaung-metro se stortingsterreine nie behoorlik bestuur word nie.
Die DA het sy kommer uitgespreek ná onthullings deur die staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor) in die parlement dat die noordelike stortingsterrein moontlik binne die volgende ses maande gesluit kan word.
Die party gaan vrae aan die Mangaung-metro rig, toesig oor die metro se afvalbestuur verskerp en duidelikheid eis oor die noodmaatreëls wat beplan word, sê Selmé Pretorius, DA-raadslid.
Sello More, stadsbestuurder, het aan Skoor erken die metro het ’n skrywe van die betrokke departement ontvang waarin vereis word die noordelike stortingsterrein moet gesluit word.
More erken die metro kan nie sy stortingsterreine doeltreffend bestuur en bedryf nie. Pretorius sê dit is uiters kommerwekkend.
“Afvalbestuur is ’n belangrike verantwoordelikheid van ’n metro. Inwoners betaal belasting en tariewe met die verwagting dat vullis verwyder sal word, stortingsterreine behoorlik bestuur sal word en omgewingswetgewing nagekom sal word.”
Sy sê die stadsbestuurder het die uitdagings by die suidelike stortingsterrein as “ernstige probleme” beskryf en dit selfs ’n “nes van diewe” genoem. Dit wek kommer oor veiligheid, misdadige aktiwiteite, omgewingsnakoming en die algemene operasionele bestuur van die terrein.
Pretorius sê die metro oorweeg glo om die bestuur van stortingsterreine aan die private sektor oor te laat weens ’n tekort aan vaardighede en kapasiteit.
Sy waarsku Bloemfontein kan nie langer in ’n permanente krisis funksioneer nie. “Die metro benodig professionele bestuur, behoorlike beplanning, streng toesig, doeltreffende omgewingsnakoming en die nodige tegniese kapasiteit om sy basiese funksies te verrig.
“Inwoners ervaar reeds vir jare swak dienslewering, swak infrastruktuur en toenemende bestuursmislukkings.”
Die DA meen plaaslike regering behoort op dienslewering te fokus, openbare gesondheid te beskerm, omgewingstandaarde te handhaaf en openbare hulpbronne verantwoordelik te bestuur.
OFM Nuus/Charne van der Merwe dg
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.


