On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
Show Background
NEXT: 19:00 - 22:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Central SA

‘Klop my hartjie nog?’ vra meisie (9) ná behandeling nie meer help nie

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 15:22 Wed, 24 Jun 2026

‘Klop my hartjie nog?’ vra meisie (9) ná behandeling nie meer help nie | News Article
Zelnay Liebenberg. Foto verskaf

Binne net twaalf uur het die land se hart en hande oopgegaan om ’n jong meisie se wenslysie te help voltooi nadat dokters bevestig het hulle kan niks meer vir haar doen nie.

Zelnay Liebenberg (9) van Brakpan is gewikkel in ’n stryd teen akute limfoblastiese leukemie (ALL), ’n diagnose wat haar lewe en dié van haar familie oor die afgelope maande ingrypend verander het. Wat aanvanklik gering gelyk het, het vinnig in elke ouer se ergste nagmerrie ontaard en ontwikkel in ’n intensiewe mediese reis met chemoterapie, komplikasies en herhaalde terugslae.

Die Liebenberg-gesin. Foto verskaf

Ná verskeie doktersbesoeke en toetse, nadat sy in Maart verlede jaar begin ongesteld voel het, is bevestig dat sy aan ’n vinniggroeiende kanker van die bloed en beenmurg ly. Die siekte veroorsaak ’n oorproduksie van onvolwasse witbloedselle (limfoblaste), wat gesonde bloedselproduksie belemmer.

Toetse het onlangs getoon 99% van die kankerselle het teruggekeer en haar liggaam reageer nie meer op chemoterapie nie. Dokters het bevestig daar is op hierdie stadium geen verdere behandelingsopsies beskikbaar nie, aangesien immunoterapie en ’n beenmurgoorplanting eers moontlik sou wees indien sy in remissie is – iets wat tans nie haalbaar is nie, vertel haar ma, Zanelle.

In April het die familie dringend probeer om ongeveer R3 miljoen in te samel vir lewensreddende immunoterapie-behandeling, terwyl hulle ook die moontlikheid van ’n beenmurgoorplanting ondersoek het indien ’n geskikte skenker gevind kon word.

Destyds het haar behandelingsreis intensiewe chemoterapie, herhaalde hospitaalopnames en komplikasies ná infeksies ingesluit, met dokters wat haar toestand noukeurig gemonitor het.

Sedertdien het haar toestand aansienlik versleg. Onlangse uitslae toon die kanker het aggressief teruggekeer en haar liggaam reageer nie meer op behandeling nie, wat geen verdere mediese opsies laat nie. Die fokus het nou heeltemal verskuif na troossorg en die skep van betekenisvolle herinneringe saam met haar familie by die huis.

Op 18 Junie is Zelnay, ’n leerder aan die Laerskool Dalview, huis toe geneem waar sy omring word deur haar familie se liefde en sorg. Sy sal steeds periodiek die hospitaal besoek vir opvolgbehandeling, bloedoortappings indien nodig en pynbestuur, terwyl haar mediese span daarop ingestel is om haar so gemaklik moontlik te hou.

Nou, in plaas van ’n lys van behandelings wat haar gesond moet maak, is daar ’n wenslysie wat daarop gemik is om haar hoop, vreugde en kosbare herinneringe in hierdie tyd te gee.

Haar wense sluit in ’n besoek aan Gold Reef City, ’n gesinsvakansie, ’n Build-A-Bear-ervaring, nuwe klere en skoene, ’n hotelverblyf saam met haar familie, ’n spa-dag en ’n ontmoeting met sanger Dirk van der Westhuizen. Sy droom ook van eenvoudige vreugdes soos ’n springmieliemasjien, ’n slushie-masjien, haar eie televisie en die versameling van Dumpling Squishies.

“Dit is een van die moeilikste dinge denkbaar,” sê Karin Harmse van Arms of Mercy wat help met Zelnay se wenslysie. “Geen kind behoort ooit so ’n lys hoef te skryf nie, en geen ouer behoort ooit hierdie pad hoef te loop nie.” Hulle is verstom oor hoe vinnig die wenslysie voltooi is en hoe mense saamgestaan het om dit binne die volgende paar weke ’n werklikheid te maak.

Terwyl een hoofstuk afsluit, begin ’n nuwe een. Die volgende doelwit is om die las op Zelnay se familie te verlig deur by te dra tot brandstofkoste vir gereelde hospitaalbesoeke en saam te werk om haar hospitaalrekening te help vereffen, sê Harmse.

Enige persoon wat graag ’n bydrae wil maak om Zelnay en haar familie te ondersteun, kan haar bel by 076 463 0821.

OFM Nuus/Charne van der Merwe sm

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.