On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Nuwe hoop vir Vrystater ná ingewikkelde breinoperasie

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 12:27 Fri, 03 Jul 2026

Nuwe hoop vir Vrystater ná ingewikkelde breinoperasie | News Article
Brandon Kriek herstel goed ná sy operasie. Foto verskaf

Daar is nuwe hoop vir ’n Vrystater, wat minder as ’n week ná ’n ses uur lange breinoperasie uit die hospitaal ontslaan is.

Hoewel Brandon Kriek (31) se herstelpad nog lank en onseker is, bly hy hoopvol die operasie was ’n sukses. Dié inwoner van Virginia is Woensdag (1/7) ontslaan nadat hy vier dae in die intensiewesorgeenheid deurgebring het. Die mediese span is tot dusver baie tevrede met sy vordering ná die operasie in Kaapstad, sê sy vrou, Elana.

Kriek het einde Junie ’n transorbitale operasie ondergaan, waartydens chirurge deur sy ooglid toegang tot die probleemarea in sy sinusse verkry het. Die prosedure was daarop gemik om ’n aanhoudende breinvloeistoflek finaal te sluit en die risiko van verdere ernstige infeksies te verminder.

Die operasie het egter langer en moeiliker verloop as verwag. Volgens Elana was die oorspronklike beplanning vir ongeveer twee tot drie ure in die teater, maar Kriek was eindelik ses ure lank in die operasiesaal.

“Die operasie was bietjie baie moeiliker as wat hulle gedink het, as gevolg van die vorige operasies en littekenweefsel,” sê sy. ’n Senuwee in sy wang het ook in die opening gegroei waar die chirurge moes werk.

Die dokters moes toe besluit of hulle die senuwee sou sny, wat moontlik tot ’n verlies aan gevoel of funksie in sy wang en gesig kon lei, of eerder om die senuwee werk. Hulle het besluit om dit voorlopig te behou.

Dit beteken egter die sukses van die operasie kan nog nie met volle sekerheid bevestig word nie. Indien breinvloeistof weer by sy neus begin lek, sal die dokters moontlik weer moet ingryp en die senuwee moet sny om die probleem te herstel.

Elana sê daar is tot dusver geen teken dat breinvloeistof by sy neus uitlek nie. “Hulle is baie tevrede met sy vordering sover,” sê sy.

Kriek was ses ure onder die mes. Foto verskaf

Kriek moet Maandag (6/7) weer by die professor se spreekkamers wees, waar hulle met ’n kamera ondersoek sal doen of die wond binne-in sy brein steeds toe is en daar geen breinvloeistof lek nie. Dit sal bepaal of die wond behoorlik gesluit bly en of die operasie as volledig suksesvol beskou kan word.

Die gesin bly intussen by ’n gastehuis naby die hospitaal sodat hy kan herstel en vinnig vir die opvolgondersoek beskikbaar kan wees. Indien alles goed verloop, hoop hulle om binne die volgende week huis toe te gaan.

Kriek se gesondheidsprobleme het in November 2023 begin toe hy ernstige, aanhoudende hoofpyne ontwikkel het. ’n CT-skandering het toe twee groot breinabsesse geïdentifiseer, waarna hy verskeie operasies en ’n lang tydperk van binneaarse antibiotika moes ondergaan.

Kriek en sy tweelingdogters. Foto verskaf

Ná die aanvanklike behandeling het hy ’n breinvloeistoflek ontwikkel nadat ’n opening in sy skedel ontstaan en die dura, die membraan rondom die brein, beskadig is. Die lek het daartoe gelei dat breinvloeistof deur sy neus geloop het en het sy daaglikse lewe, insluitend sy werk as onderwyser, ernstig beïnvloed.

Verskeie pogings om die lek chirurgies te herstel, het nie ’n blywende oplossing gebring nie. Sy toestand het in November verlede jaar verder versleg toe hy met staphylococcus-meningitis, ernstige longontsteking en sepsis in ’n koma verval het.

Die jongste operasie bied nou hoop dat die lek eindelik herstel kan word en die risiko van verdere meningitis en ander komplikasies verminder kan word.

Die gesin vra dat mense steeds vir Kriek se volledige herstel, asook vir geen infeksies of komplikasies nie, sal bid.

Die langer operasie het ook ’n verdere finansiële las op die gesin geplaas. Die aanvanklike kwotasies was op ongeveer twee tot drie ure in die teater gegrond, maar omdat Kriek ses ure lank geopereer is, het die koste aansienlik toegeneem. Ná die bykomende uitgawes vir die ekstra tyd in die teater en ander mediese koste, staan die gesin nou met ’n uitstaande bedrag van R8 350 wat nog aan die hospitaal betaal moet word.

’n Organisasie sonder winsoogmerk, Hand of Grace and Kindness NPC, het ’n geldinsameling begin om die gesin te help met die koste.

OFM Nuus/Charne van der Merwe sm

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.