Central SA
Goudveldse oudpolisiekaptein, vrou se hofsaak in pylvak─── CHARNÉ VAN DER MERWE 10:30 Mon, 06 Jul 2026
’n Gewese polisiekaptein van die Vrystaatse Goudveld en sy vrou se ses jaar lange hofsaak sal moontlik tot ’n einde kom wanneer slotbetoë Woensdag (8/7) gelewer word.
Daniel Jacobus (60) en Anna Francina (55) Fourie sal in die streekhof in Welkom verskyn. Die egpaar is op 7 April skuldig bevind aan meer as duisend aanklagte van intimidasie en crimen injuria ná ’n jare lange vete met die sakebroers Manny en José Jardim.
Hulle is ook verantwoordelik bevind vir graffiti wat jare lank brûe, padtekens en mure oor die Goudveld heen ontsier het. Fourie bly sedertdien in aanhouding, terwyl Anna op waarskuwing vrygelaat is om reëlings vir die egpaar se gestremde seun (34) te tref.
Hulle sou aanvanklik op 8 April gevonnis word. Daar is ook twee voorvonnisverslae wat steeds uitstaande is. Die maatskaplike werker het op 4 Junie aan die hof gesê sy wil haar verslag wysig, terwyl die korrektiewetoesigbeampte se verslag steeds uitstaande is. Albei verslae is op versoek van die verdediging aangevra.
Fourie het intussen op 26 Junie om borgtog aansoek gedoen en tydens kruisondervraging ’n onbekende dokument aan die hof voorgelê wat volgens hom ’n geldige rede kan wees waarom borgtog toegestaan moet word.
Die dokument is nog nooit voorheen ter sprake gebring nie. Hy beweer dit is deur die hooggeregshof in Bloemfontein uitgereik en bevestig dat hy die enigste persoon is wat wettig gemagtig is om die finansiële sake van sy gestremde seun te bestuur.
Adv. Allen Simpson, staatsaanklaer, het aangevoer die egpaar misbruik hul seun se toestand om op borgtog vrygelaat te word en tronkstraf vry te spring. “Julle het nooit aan die gevolge vir jul seun gedink toe julle die misdrywe gepleeg het nie.”
Anna het op 4 Junie getuig die seun se toestand het versleg sedert sy pa in aanhouding is. Terwyl hy voorheen sowat een epileptiese toeval per maand gekry het, kry hy nou glo tot drie per week.
Die seun drink steeds uit ’n bottel, dra doeke en het hulp nodig met basiese daaglikse take. Anna het getuig sy sukkel om alleen na hom om te sien omdat hy groter as sy is en sy hom nie maklik kan oplig of omdraai wanneer hy epileptiese aanvalle kry nie.
‘Meer hardkoppig geraak’
Hy verstaan nie waar sy pa is nie, het sy ma getuig, en loop gereeld deur die huis op soek na hom. Hy kyk by vensters uit en het ook meer hardkoppig geraak. Landdros Marionette Kirsten het nie borgtog toegestaan nie nadat verskeie teenstrydighede in Fourie en Anna se getuienis na vore gekom het.
OFM Nuus/Charne van der Merwe dg
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.


