Central SA
Vrystater wat prokureur-man doodgeskiet het, dan gevonnis─── CHARNÉ VAN DER MERWE 11:33 Thu, 16 Jul 2026
Die Vrystater wat skuldig bevind is aan die moord op haar voormalige prokureur-man, sal na verwagting Vrydag (17/7) in die rondgaande hooggeregshof in Welkom gevonnis word.
Linda van den Heever (64) is in Desember skuldig bevind aan moord met voorbedagte rade op André van den Heever (64). Die staat vra dat sy lewenslange tronkstraf opgelê word.
Hoewel die gewese egpaar reeds geskei was, het hulle steeds in verskillende kamers in dieselfde huis gewoon. André het sy prokureurspraktyk vanaf die woning bedryf, waar hy die oggend van die skietery dood aangetref is. Nadat hul dogter, Melissa, ’n ontstellende stemboodskap van haar ma ontvang het, het sy haar vanaf Johannesburg na Welkom gehaas.
Die staat het tydens hul slotbetoë aangevoer Van den Heever het die moord beplan. Ná die skietery het sy gebad, skoon klere aangetrek en na die huis van haar destydse kêrel, Kiewiet van der Westhuizen, op Hennenman gery. Hy het die polisie ontbied. ’n .38 Special-rewolwer is later in haar handsak gevind en ballistiese getuienis het die vuurwapen met die noodlottige skoot verbind.
Die verdediging het egter aangevoer dat sy uit selfverdediging opgetree het nadat André haar glo aangerand het. Haar regsverteenwoordiger, adv. Allen Simpson, het aangevoer sy kon nie onthou wat ná die beweerde aanranding gebeur het of hoe sy op Hennenman beland het nie en het ook verskeie beweerde leemtes in die polisieondersoek uitgewys.
Tydens die verhoor het Melissa getuig albei haar ouers het mekaar met die jare emosioneel en fisiek seergemaak, terwyl sy ook vrae geopper het oor die hantering van sekere bewyse op die misdaadtoneel.
Linda van den Heever in gesprek met adv. Allen Simpson, haar regsverteenwoordiger. Foto: Charne van der Merwe
Die hof het tydens die vonnisverrigtinge emosionele slagofferimpakverklarings van hul kinders, familielede en vriende aangehoor. Melissa het haar pa as haar beste vriend beskryf, terwyl haar broer, Christopher, getuig het oor die trauma, slapeloosheid en emosionele las waarmee hy sedert die moord leef.
Die staat voer aan dat daar geen wesenlike en dwingende omstandighede bestaan om van die voorgeskrewe minimum vonnis af te wyk nie en vra dat Van den Heever lewenslange tronkstraf opgelê word. Die verdediging meen egter rehabilitasie behoort nie uitgesluit te word nie en dat ’n lewenslange vonnis nie gepas is nie.
Van den Heever het op 5 Junie briewe in die hof voorgelees – onder meer aan André – waarin sy beweer hy het haar jare lank mishandel en dat sy vroeër uit die huwelik moes wegstap. Regter Pitso Molitsoane sal Vrydag beslis of sy die voorgeskrewe minimum vonnis van lewenslange tronkstraf opgelê moet word.
OFM Nuus/Charne van der Merwe sm
* Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.


