Central SA
Welkom-moord: Lewenslank gevra, vrou kry agt jaar tronkstraf─── CHARNÉ VAN DER MERWE 15:52 Fri, 17 Jul 2026
Die Vrystaatse vrou wat haar voormalige prokureurman vermoor het, is Vrydag (17/7) ligter gevonnis as wat verwag is, hoewel die staat lewenslange tronkstraf gevra het.
Linda van den Heever (64) is in die rondgaande hooggeregshof in Welkom tot 15 jaar tronkstraf gevonnis, waarvan sewe jaar vir vyf jaar opgeskort is. Sy sal dus ’n effektiewe agt jaar tronkstraf uitdien.
Van den Heever het op 14 Desember 2021 haar voormalige man, André van den Heever (64), by sy prokureurspraktyk by hul woning in die dorp doodgeskiet.
Voorbedagte rade
'n Sigbare verligting, met hande voor die gesig en deur die hare, was die reaksie van familielede en vriende wat die hofverrigtinge bygewoon het. Nadat sy in Desember aan moord met voorbedagte rade skuldig bevind is, het almal verwag sy sou lewenslange tronkstraf kry, aangesien dit die voorgeskrewe vonnis is wat gewoonlik met dié skuldigbevinding gepaardgaan.
Die hof het Van den Heever ook onbevoeg verklaar om 'n vuurwapen te besit en haar beveel om al haar vuurwapens, lisensies en ammunisie binne sewe dae aan die ondersoekbeampte te oorhandig.
Regter Pitso Molitsoane sê die moord was met voorbedagte rade gepleeg en beklemtoon geweld binne huishoudelike verhoudings is 'n ernstige misdaad waarvoor ’n swaar straf opgelê moet word.
Hoewel die verdediging aangevoer het Van den Heever was emosioneel en verbaal deur die oorledene mishandel, is daar op sielkundige getuienis gesteun dat sy simptome van posttraumatiese stresversteuring getoon het.
Teenstrydighede
Die hof het egter bevind daar is onvoldoende bewyse om dié bewerings te staaf en het ook haar berou bevraagteken weens teenstrydighede tussen haar weergawe en die ander getuienis.
Adv. Allen Simpson, vir die verdediging, het kort ná die vonnisoplegging aansoek om verlof tot appèl gedoen en meer as 30 gronde aangevoer waarom verlof tot appèl teen die skuldigbevinding en vonnis toegestaan behoort te word.

Familie en vriende in die hof. Foto: Charne van der Merwe
Die appèlgronde fokus hoofsaaklik op die bewering dat die staat nie die saak bo redelike twyfel bewys het nie, aangesien die vervolging grootliks op omstandigheidsgetuienis gesteun het. Die verdediging voer aan dat die verhoorhof verskeie redelike moontlikhede wat met onskuld versoenbaar is, nie behoorlik oorweeg het nie.
Verder word aangevoer dat daar ernstige tekortkominge in die forensiese en ballistiese getuienis was, insluitend probleme met die bewaring en hantering van bewysstukke, die ketting van bewaring van die projektiel en die gebrek aan sekere ondersoeke, soos vuurwapenresidu-toetse.
Die verdediging wys ook op onbeantwoorde vrae rondom die ontdekking van die oorledene se vuurwapen, die volgorde van die skote en die moontlikheid dat ander scenario's bestaan het.

Adv. Allen Simpson en Linda van den Heever. Foto: Charne van der Merwe
Simpson beweer ook die hof het die psigiatriese getuienis verkeerd beoordeel en nie genoegsaam aandag gegee aan faktore soos ’n moontlike fisieke konfrontasie, beweerde aanvalle, emosionele spanning en moontlike selfverdediging of verminderde strafregtelike aanspreeklikheid nie.
Die kumulatiewe effek van hierdie tekortkominge skep onsekerhede oor die skuldigbevinding. Die verdediging voer aan dat ’n ander hof moontlik tot ’n ander gevolgtrekking kan kom en versoek daarom dat verlof tot appèl teen die skuldigbevinding en vonnis toegestaan word.
Molitsoane het die aansoek egter van die hand gewys en bevind die verdediging het nie daarin geslaag om die hof te oortuig dat daar redelike vooruitsigte op sukses met ’n appèl bestaan nie.
Hoewel die hof bevind het die moord is met voorbedagte rade gepleeg, het dit beslis dat wesenlike en dwingende omstandighede 'n ligter vonnis as lewenslange tronkstraf regverdig.
Die hof het onder meer Van den Heever se ouderdom, traumatiese kinderjare en sielkundige toestand in ag geneem, asook die verwoestende uitwerking wat die misdaad op albei families gehad het.
Ná konsultasie met Simpson het sy egter besluit om alle verdere appèlstappe te laat vaar. Sy aanvaar die vonnis soos deur die hof opgelê.
OFM Nuus/Charne van der Merwe dg
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.


